‘Kaper’ geskiet ná jaagtog in Pta-strate

Die voertuig waarin die verdagtes gery het. Foto: Verskaf

Die voertuig waarin die verdagtes gery het. Foto: Verskaf

ʼn Vermeende kaper is Woensdagoggend in die ooste van Pretoria geskiet, ná ʼn wilde jaagtog met die polisie en metropolisie.

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die Boschkop-polisiestasie, het aan Maroela Media gesê metropolisiebeamptes het tydens roetinepatrollie ʼn verdagte Toyota Corolla opgemerk en gevolg.

“Die beamptes het die voertuig vir ʼn ruk lank agtervolg en vasgestel dit is by die Putfontein-polisiestasie in Benoni as gekaap aangemeld,” het Van der Merwe gesê.

“Die metropolisie het bystand ontbied en beamptes van die Garsfontein-polisiestasie het reageer.”

Die bestuurder van die verdagte motor het al hoe vinniger begin ry en geweier om stil te hou.

“Die metropolisiebeamptes het toe op die verdagte motor geskiet, nadat hulle vermoedelik een van die verdagtes met ʼn vuurwapen gesien het en omdat die bestuurder nie wou stilhou nie. Die bestuurder het uiteindelik by die verkeersirkel van die Mooikloof Ridge-landgoed ingejaag en teen ʼn motoris gebots wat op pad uit was.”

Die bestuurder het uit die motor gespring en weggehardloop. Die passasier, wat vermoedelik tydens die skietery gewond is, is in hegtenis geneem en onder polisie bewaking in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem.

Die motoris het geringe beserings tydens die botsing opgedoen en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir waarneming.

Die Putfontein-polisie ondersoek ʼn saak van motorkaping. Die Boschkop-polisie ondersoek sake van roekelose en nalatige bestuur en die besit van ʼn vermeende gekaapte voertuig.

Die soektog na die ander verdagte duur voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vixie ·

MM, hoekom word kaper in aanhalingstekens geskryf? Dit laat die indruk dat mense “dink” dis ‘n kaper, maar nog nie seker is nie?

Kiepie ·

Vixie, dit is nie noodwendig te sê dat die persoon wat raakgeskiet is betrokke was by die kaping van die voertuig nie. Veral omdat die voertuig reeds vroeër (dalk dae vroeër) gekaap is en ook omdat die persoon ‘n passasier was in die voertuig. Dit is dus moontlik dat hy ‘n onskuldige persoon is wat per toeval in die motor was toe dit opgemerk is.

Sune van Heerden ·

Dagsê Vixie

Die media kan van laster of naamskending beskuldig word indien ‘n persoon in ‘n hof onskuldig bevind word aan die misdaad.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Wat-ek-lees ·

Nie aangekla van eiendomsbeskadiging (van die ander voertuig)? Nie aangekla van poging tot moord (van die ander motoris)? Nie aangekla van aanranding (beserings van die ander motoris)?
Alhoewel al die klagtes eerder skynbaar verband hou met die bestuurder wat weggehardloop het. Ook die klagtes deur die polisie gelê. Sou dit ek wees gaan ek as passasier onskuldig pleit en ‘n saak teen die polisie maak omdat ek geskiet is. Hoe moes ek geweet het die voertuig is gesteel?
Daar is ook moontlik ‘n vuurwapen betrokke maar geen klag daaroor.

WV ·

Wat-ek-lees, nie een van die aanklagte waarna jy verwys kan teen die passasier van die voertuig gemaak word nie. Ook nie die een oor die vuurwapen nie want dit sê nêrens dat ‘n vuurwapen op hierdie persoon gevind is of dat dit hierdie persoon is wat met die vuurwapen gesien is nie. Inteendeel die berig sê hulle het vermoedelik ‘n vuurwapen by een van die verdagtes gesien. Klink my hulle self is nie eers seker nie. Al wat water dra is die moontlikheid dat die verdagte dalk die polisie kan aankla omdat hy geskiet is as hy onskuldig is, maar ek glo ook nie hy sal daarmee suksesvol wees nie indien die polisie kan bewys dat hulle dit nodige was vir hulle om op die voertuig te skiet om dit te stop.

Theresa B ·

Ja-Ja. So word almal beskerm behalwe die regte eiendom en persone…………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.