Kaper sit lank na 9-jarige se dood, al skiet pa doodskoot

Vermoor tydens ‘n kaping: Sadia Sukhraj (9).

Die moordenaar van ʼn negejarige meisie van Chatsworth is Durban is lewenslange tronkstraf vir haar dood opgelê.

Klein Sadia Sukhraj is verlede jaar tydens ʼn mislukte kaping doodgeskiet.

Hoewel Sibonelo Seni Mkhize nie die skoot afgevuur het wat haar dood veroorsaak het nie – haar pa het – het die hof bevind omdat Mkhize die gesin met ʼn vuurwapen aangehou het, moet hy vir die daaropvolgende moorde verantwoordelik gehou word.

Mkhize is dus skuldig bevind aan die moord op Sadia, asook die moord op sy medepligtige, Siyabonga Bulose.

Mkhize is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Tydens vonnisoplegging het regter Esther Steyn gesê sy weet die vonnis kan nie die lewe van die “pragtige kind” terugbring nie.

Steyn het gesê die vonnis moet dien as ʼn herinnering dat lewe heilig is en beskerm moet word.

Sadia se pa, Shailendra, het die vonnis verwelkom.

“Ons het volle vertroue in die regstelsel gehad. Ek wil die ondersoekbeampte bedank vir sy uitnemende ondersoekwerk, asook die aanklaer vir sy ongelooflike insette,” het hy gesê.

Sibonelo Mkhize is skuldig bevind aan die moord op Sadia Sukhraj (9) tydens ‘n kaping verlede jaar. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Tydens die verhoor het dit uit ʼn ballistiese verslag aan die lig gekom dat Shailendra die skoot afgevuur het wat Sadia se dood veroorsaak het. Haar pa het op die rowers losgebrand in ʼn poging om hulle te keer om met Sadia in die motor weg te jaag

Steyn het tydens Maandag se uitspraak gesê omdat Mkhize die gesin met ʼn wapen gedreig het, moet hy vir die moorde verantwoordelik gehou word.

Sy het gesê die meisietjie moes in haar laaste oomblikke vreesbevange gewees het. Sadia het op 28 Mei verlede jaar gesterf en haar dood het groot opslae gemaak.

Terwyl hulle dié oggend op pad skool toe was, het Shailendra vir Sadia na haar grootouers se huis in Shallcross, naby Chatsworth, geneem. Sy het agter haar pa in die motor gesit, toe hy uitgeklim het.

Volgens die klagstaat het Mkhize en Bulose vir Shailendra in die oprit oorrompel.

“Die aanvallers was gewapen en het die sleutel by haar pa geëis. Hy het die sleutel vir hulle gegooi, waarna albei ingeklim het.

“Terwyl die aanvallers in die voertuig van die toneel gevlug het, met sy dogter steeds binne in, het hy verskeie skote op die aanvallers met sy gelisensieerde wapen afgevuur.”

Die motor het tot stilstand gekom nadat dit met ʼn ander voertuig gebots het. Mkhize het te voet gevlug, maar ʼn polisielid wat van diens af was, het hom agternagesit én gevang. Bulose is op die toneel aan ʼn skietwond dood.

Sadia is na die Chatsworth-hospitaal gehaas, waar sy dood verklaar is. Sy het ʼn skietwond aan die bors gehad.

Sadia se ouers, Shailendra en Lorraine Sukhraj, tydens die hofverrigtinge. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Die kind se dood het groot woede in Chatsworth ontketen. Die minister van polisie, Bheki Cele, moes onder meer die gebied besoek om gemoedere te help kalmeer. Inwoners daar het beweer misdaadvlakke in die gebied is buitengewoon hoog en dat die polisiestasie nie genoeg mannekrag het nie.

The Post berig intussen die Nasionale Vervolgingsgesag het nog nie ʼn besluit geneem oor of Shailendra ook vervolg gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Hierdie saak is baie goed hanteer en die vonnis is gepas….

Sandy ·

Ek dink nie dis nodig om die pa te vonnis nie. Ek dink die wete dat hy verantwoordelik was vir die koeel wat sy dogter se dood veroorsaak het, genoeg straf vir hom moet wees. Hy sal vir die res van sy lewe daarmee moet lewe.

Grysburger ·

Daar is 1 party wat elke keer skotvry kom wanneer moordenaars in sulke gevalle,asook plaasmoorde, gevonnis word.

Dit is alom bekend dat oortreders sg “toordokters” besoek voor hulle misdade pleeg.

Ons regstelsel behoort hierdie primitiewe bygelowe ook straf deur persone wat sg “muthi” verskaf ook aan die misdaad te koppel.

In ons Westerse lewensbeskouing sal sulke regspleging nie sin maak nie, maar oortreders sal die boodskap kry.

jakes ·

Baie goeie uitspraak en vonnis. Hoekom? Kyk wie was die regter.

Poot ·

Alhoewel ek die uitspraak verwelkom, weet ek nie per definisie of die regter se uirspraak reg was nie. Die feite van die saak ken ek ook nie. My gesonde verstand sê net vir my dat sou hulle weg gejaag het, hoe kan die kind in die bors geskiet wees. Ek is self n ouer en ek sal 2 keer dink voor ek losbrand op n voertuig waar my kinders in is. Hierdie pa was roekeloos met die gebruik van sy vuurwapen. My meegevoel met die familie van die mooi dogtertjie.

gerta ·

@ poot ,ek se dit ook ..hy moes twee keer gedink het voor hy die skoot afgevuur het ..hyt sy kind se lewe in gevaar gesit en geneem en moet nou saam dit leef vir die res van sy lewe …

Michelle ·

Niks sal die pragtige kind terug bring nie dit is nie nodig on die vader van die kind verder te straf nie, die moordenaar is tronk toe en daar moet hy bly as dit nie vir sy dade was nie sou die vader in die eerste plek nie in die situasie gewees het nie. Mag hul berusting vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.