‘Kaper’ sterf ná jaagtog, skietgeveg met polisie

Die vuurwapens waarop beslag gelê is. Foto: SAPD.

Die vuurwapens waarop beslag gelê is. Foto: SAPD.

ʼn Vermeende kaper is dood en nog twee verdagtes soek ná ʼn afleweringsvoertuig Donderdag in die Motherwell-omgewing in Port Elizabeth gekaap is.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die voertuig wat melk aflewer, was op pad na winkels in Ngonyama-straat toe drie gewapende rowers die voertuig voorgekeer en die sleutels by die bestuurder geëis het.

Volgens Beetge het hulle ook die bestuurder van sy beursie beroof voordat hulle met die voertuig op die vlug geslaan het. “Die voertuig was toegerus met ʼn opsporingstoestel en ons kon die voertuig op die N17 tussen Motherwell en Kwazakhele waarneem. Gelukkig was een van ons patrollievoertuie naby en kon die gekaapte voertuig agternasit,” het Beetge gesê.

Toe die verdagtes agterkom dat die polisie hulle agtervolg, het hulle versnel, maar is vertraag deur spoedhobbels in die pad. Terwyl die afleweringsvoertuig nog beweeg het, het die verdagte in die passasiersitplek uitgespring en op die polisie losgebrand.

Foto: SAPD.

Foto: SAPD.

Die polisie het teruggeskiet en die verdagte het gevlug. Die polisiebeamptes het stilgehou en hom te voet agternagesit. Hy is oomblikke later dood in ʼn nabygeleë straat aangetref. Volgens Beetge is die verdagte se identiteit nog nie bekend nie, maar hy is vermoedelik in sy twintigs. “Hy het een vuurwapen in sy hand gehad. Toe die noodpersoneel hom omdraai, het hulle nog ʼn gaspistool by hom gevind.”

Beetge het gesê die vuurwapen waarmee geskiet is, is vroeër vandeesmaand by ʼn Atlas-sekuriteitswag in Motherwell geroof. Die afleweringsvoertuig is 100 m verder in Stofilestraat gevind met die besending melk steeds in die voertuig. Die twee ander verdagtes het reeds gevlug.

Daar is op die vuurwapens én die afleweringsvoertuig beslag gelê. Geen polisiebeamptes is in die voorval beseer nie.

ʼn Saak van gewapende roof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Andre ·

Maroela Media bedoel seker: ” …nog twee verdagtes WORD GEsoek…”

Dis baie hartseer dat ‘n persoon in sy vroeë twintigs sy lewe verloor het vir ‘n voertuig en ‘n beursie. Hy is nog so jonk en het sy hele lewe voor hom gehad.

Delia ·

Nee Andre, die sin ‘nog 2 verdagtes soek’ is heel korrek, hoeveel min so gebruik.

A.G ·

As jy nog so jonk is en met n vuurwapen wil speel en op mense skiet moet jy bereid wees om jou lewe te verloor. Net jammer die polisie kon die ander twee nie ook vastrek nie.

Wondermanet ·

Andre, wat de drommel? As hy nie, as voortvlugtig, geskiet was nie, sou hy moontlik ook ander onskuldiges geskiet het

Andre ·

Wondermanet, al wat ek bedoel is dis jammer jong mense mors hulle lewe so op. Hulle raak betrokke met sulke dinge en stel ander mense se lewens in gevaar en laat dalk onskuldige mense sterf. Hy verdien wat met hom gebeur het; ons wil nie sulke mense in die samelewing hê nie.

Ek het glad nie bedoel dat ek jammer vir hom is of sy dade goedkeur nie. Ek vra om verskoning as dit so gelyk het.

pieter ·

Die vraag is nog steeds waar kry die misdadigers die skietgoed, elke jan raap en sy maat loop rond met onwettige wapens , die minister van polisie moet opstaan en dit begin ondersoek

snoefie ·

snaaks hoe die booswigte altyd wegkom terwyl die polisie hulle met motors agternasit, nieoo fietse nie. pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.