‘Kaper’ vas toe hy hulp vir skietwonde soek

Die toneel in KwaMashu waar twee verdagtes doodgeskiet is (1 Junie 2018). Foto: Twitter via @Abramjee

Een van die vermeende kapers wat Donderdag ʼn pa van Durban ten aanskoue van sy kinders doodgeskiet het, is Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat hy by ʼn kliniek aangeklop het vir behandeling vir skietwonde.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes was deur die nag op die spoor van ʼn groep gewapende rowers wat gister ʼn winkel in Avoca beroof het, ʼn motoris doodgeskiet het en daarna ʼn ander voertuig gekaap het.

“Polisiebeamptes het die voertuig waarna hulle op soek was by die KwaMashu Hostel opgemerk. Die verdagtes het probeer om van die polisie te vlug en het in die proses met hul voertuig in ʼn huis vasgejaag.

“Daar het ʼn skietgeveg tussen die polisie en die rowers ontstaan, en twee van die verdagtes is doodgeskiet,” het Naicker gesê.

“Die derde verdagte kon daarin slaag om van die toneel te vlug. Hy is egter later by die Polikliniek in KwaMashu in hegtenis geneem toe hy daar aangemeld het om mediese behandeling vir die wonde te kry wat hy gedurende die skietery opgedoen het. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en word tans onder polisiebewaking behandel.”

Die toneel in KwaMashu waar twee verdagtes doodgeskiet is (1 Junie 2018). Foto: Twitter via @Abramjee

Volgens Naicker het die drie verdagtes glo Donderdag omstreeks 15:30 ʼn winkel in Avoca beroof. Hulle het van die toneel gevlug en probeer om ʼn voertuig buite die winkel te kaap. Die bestuurder van die voertuig het egter geweier om sy sleutels te oorhandig en hy is doodgeskiet. Die rowers het daarna ʼn ander voertuig gekaap en daarmee van die toneel gevlug.

Maroela Media het vroeër berig die motoris wat doodgeskiet is, is later as Kelly Chetty geïdentifiseer.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir hul dapperheid en toewyding om deur die nag te werk om die verdagtes op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oom Kalahari ·

Uitstekende opvolg werk en dienslewering deur die Polisie in daardoe distrik en verdirn ‘n pluimpie en klop op die skouer.

Wens net dat plaas/ kleinhoewe aanvalle en moorde dieselfde optrede en dienslewering kan geniet. Verwyder hierdie uitdagende moordenaars en misdadigers uit die samelewing asb. Nog ‘n Pa en broodwinner is van sy familie ontneem in aanskoue van sy kindertjies wat hierdie beeld lewenslank met hul gaan saamdra
Sterkte aan die familie.

Amelia ·

Wat se n mens vir die hospitaal/kliniek waar het jy die skietwonde opgedoen?
Ek meen n mens word nie net geskiet nie.

Mollie ·

Die Polisie van KZN is baie op en wakker en vat nie nonsens nie! Dis nou die hoeveelste keer wat hul rowers doodskiet hierdie jaar en ons baie belasting geld spaar! Ek bid dat die Polisie van Gauteng sal wakker skrik en probeer kers vashou by KZN se Polisie.

Johan du Preez ·

Hulle moet die ander polies mense Natal toe stuur vir op die job training

cor ·

Uitstekende werk, maak asb. net seker dat die regte stappe gevolg word sodat hy lank en diep gebere kan word. Moet asb. nie die howe kans gee om hom te laat weg kom nie.

GM ·

Die vermetelheid om mediese hulp te soek nadat ‘n onskuldige persoon se lewe geneem is! En dan word hy nog in ‘n hospitaal, onder polisiebewaking, behandel. Dubbele geldmors! Laat die polisie hul tyd iewers anders gaan deurbring en laat die derduiwel homself behandel in die tronk, met voorraad wat hyself gekoop het. Mense word weggewys van privaathospitale as hul nie vir dienste kan betaal nie, al was hul beseer deur ‘n krimineel. Kriminele behoort weggewys te word van alle hospitale. Hulle verdien nie regte nie.

Cherokee ·

Jy noem nou iets oor oor te mymer. As ‘n krimineel ‘ onskuldige lid van die publiek wond en die krimineel word gevang en albei word na dieselfde hospitaal geneem, sal die krimineel gratis hulp ontvang terwyl die onskuldige weggewys word. Klipharde waarheid wat jy hier kwytraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.