‘Kapers’ by hospitaal vasgetrek

Argieffoto: SAPD

Drie vermeende kapers is Sondagoggend by ’n hospitaal in Johannesburg in hegtenis geneem nadat een van die mans vroeër tydens ʼn skietery gewond is.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, sê dit kom ná ʼn kapingsvoorval vroeër die dag op die hoek van Nurserystraat en Main Reef-weg in Fordsburg.

Volgens Mbele het die verdagtes na bewering probeer om ʼn voertuig vas te keer deur die pad met hul Chevrolet Captiva te versper. Verskeie skote is egter deur ʼn onbekende persoon op die Captiva afgevuur.

Die verdagtes het glo uit hulle voertuig gespring en ’n silwer Honda Jazz, wat aan ’n 37-jarige man behoort, gekaap. Die voertuig is later met behulp van ʼn opsporingstoestel in Turffontein opgespoor. Volgens Mbele was die voertuig binne met bloed bevlek.

“’n Vuurwapen is ook binne die voertuig gevind,” sê Mbele.

Lede van die Johannesburgse blitspatrollie het die verdagtes nagespoor tot by die Vosloorus-hospitaal nadat hulle ʼn wenk ontvang het dat ʼn gewonde man vir mediese behandeling ingekom het. Hulle het die man en sy twee vermeende makkers by die hospitaal aangetref.

Die gewonde verdagte word tans onder polisiebewaking in die hospitaal behandel. Die ander twee is in polisieaanhouding.

Die drie verdagtes sal eersdaags in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marous ·

Dis baie jammer om te hoor hulle was nie almal by ‘n begrafnisondernemer vasgetrek nie.

Netso ·

Die mentaliteid van die skurke laat my stik aan my koffie. Ek stem saam marous hulle gan ons belasting geld kos om weer later dieselfde pad te stap!

Attie. ·

Wanneer die polisie wel iets goeds doen kry hulle geen eer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.