Kapers dwing bestuurder in kattebak

Die ongelukstoneel (Foto: RUSA Facebook)

ʼn Taxidiens-bestuurder wat deur kapers in sy voertuig se kattebak ingedwing is, is ongedeerd nadat die kapers kort daarna met die voertuig in ʼn ongeluk betrokke was.

Volgens Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), is hul nooddiens Donderdagaand omstreeks 20:24 na ʼn ongelukstoneel in Phoenix in KwaZulu-Natal ontbied.

“ʼn Renault Triber en ʼn Volkswagen Jetta was in ʼn ongeluk betrokke waarna drie mans uit die Renault gespring en gevlug het. ’n Man wat beweer dat hy ’n taxidiens-bestuurder is, is deur die publiek uit die Renault se kattebak bevry,” vertel Balram.

Volgens Balram het die drie mans wat gevlug het die voertuig gekaap en die bestuurder in die kattebak ingedwing.

Hy vertel die bestuurder se dienste is vroeër die aand in Newlands-Wes aangevra. Toe die bestuurder by die oplaaipunt aankom, is hy deur drie mans genader.

“Twee van die mans het vuurwapens op hom gerig en hom in die kattebak van sy voertuig gedwing. Die derde man was met ’n mes gewapen.”

Nadat die bestuurder in die kattebak ingedwing is, het die vermeende kapers teen ’n hoë spoed in die rigting van Phoenix gejaag.

Die voertuig wat gekaap is (Foto: RUSA Facebook)

“Digby Phoenix het hulle ʼn vulstasie genader. Soos hulle al nader aan die vulstasie gekom het, het die Volkswagen Jetta, wat voor hulle gery het, stadiger gery om gereed te maak om by die vulstasie in te draai. Dit is toe die kapers die Jetta probeer verbysteek dat die twee voertuie gebots het.”

Die Renault se band het in die proses gebars en die kapers het die voertuig net daar gelos en laat spaander.

“Die bestuurder is nie beseer nie, maar is erg getraumatiseer na die gebeure.”

Rusa het ʼn soektog na die kapers van stapel gestuur en Balram het bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gerig en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alta Alleman ·

Ek sidder om te weet wat hulle met die taxi bestuurder sou gemaak het as daar nie ‘n ongeluk was nie. Daar was ‘n groter hand betrokke.

Adam Adriaan ·

Ek wonder of die heer CR en sy maters besef wat is aan die gebeur in SA. Nav hulle roekelose omgang met die mandaat wat aan hulle gegee is deur die kiesers. Dit wil voorkom of hulle sienende blind en horende doof is. Ek kan nie glo dat hulle blatant besig is om die land te verwoes nie. Hulle laat maar gods water oor gods akker loop en hulle besef nie wat is snel besig om te ontvou in SA nie.!!!

Cherokee ·

Jy kan jou vraag met ietwat meer as ‘n kwarteeu vervroeg ook, en name verander.

Jakes ·

Kapers het gewoonlik nie rybewyse nie. Hulle kyk stokiesprente en leer dan so om te bestuur. Wat hulle wel baie goed kan doen is om vinnig te kan hardloop. Die naaste bosse verkieslik.

Derek ·

Wonderlike demokratiese Suid Afrika, elkeen het mos die reg tot sy godsdiens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.