Dino Salgado is Saterdagaand byna in Kloofweg, Bedfordview, gekaap. Die voorval kon so maklik net nog deel van misdaadstatistieke geword het en is meeste Suid-Afrikaners se grootste nagmerrie, maar danksy ʼn span bouers het die storie ʼn heel ander wending geneem.
Volgens Salgado het die kapers daarin geslaag om in sy erf te kom en selfs ʼn paar skote af te vuur, maar gelukkig is niemand in die voorval beseer nie.
“ʼn Span konstruksiewerkers wat besig is om huise langs ons te bou, het egter die gewapende man uit ʼn Golf R sien klim. Hulle het die aanvallers dadelik met klippe en halwe bakstene gegooi terwyl hulle geskree het ‘Loop julle tsotsi’s!’. Hulle het aangehou om die kapers met bakstene te bestook selfs al het die gewapende man skote op hulle afgevuur.”
Die kapers het later die aftog geblaas met ʼn gebreekte voorruit en stukkende kantspieëltjies, het Salgado op die Bedfordview-gemeenskap se Facebook-blad geskryf. Hy meen die bouers se dapper optrede het hom die kans gegun om veilig uit die situasie te kom.
“Ek wil die 28 bouers van harte bedank. As hulle nie die aanvallers gebombardeer het met bakstene en klippe nie sou ek nie betyds in my motorhuis kon kom en die deur sluit nie.
“Dit is voorwaar lekker om te sien hoe Suid-Afrikaners teen misdaad kan saamstaan – julle is ware kampioene,” het Salgado gesê.
Salgado se inskrywing het reeds wyd reaksie op Edenvale sowel as Bedfordview se Facebook-groepe ontvang en lesers het die groep geloof en bedank vir hulle dapper optrede teen die kapers.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Awesome!!!! Hulp uit ‘n on verwagte oord. Mag daar 28 manne geseënd wees vir altyd.
Nou is Bedvordview se bouers ons helde ook! Mooi so! Dankie dat jul ñ man ten hulp gesnel het.
Awesome manne dit wil gedoen word …
Baie baie lekker om so storie te lees tussen die moord en doodslag stories wat altyd oorheers. Dankie vir sulke mense! Almal van julle verdien ń GROOT dankie. As ons almal so tewerk gaan sal die misdaad syfer beslis daal. Saam kan ons ń verskil maak!
Fantasties. Almal is sat vir misdaad.