Kapers jaag met baba weg

Die babadogtertjie is in haar stoeltjie langs die pad afgelaai. Sy is kort daarna met haar gesin herenig. (Foto: Marshall Security)

ʼn Babadogtertjie is ongedeerd gevind nadat kapers met haar weggejaag het.

Die vyf maande oue baba was nog in haar motorstoeltjie vasgegordel toe drie gewapende mans die Toyota Hilux in KwaDabeka wes van Durban gekaap het. Hulle het met haar nog steeds in die bakkie weggejaag, het die veiligheidsmaatskappy Marshall Security gesê.

“Die Hilux is toegerus met ʼn satellietopsporingstoestel wat deur Netstar dopgehou word en die eienaar het inligting van die slimfoon-app [oor die ligging van die voertuig] aan die polisie en gemeenskap-WhatsApp-groepe begin deurgee. Hulle het die nodige hulpbronne ontplooi terwyl die voertuig na die Inanda-gebied op pad was.”

Volgens Marshall Security het die kapers die baba, nog in haar stoeltjie, naby die Inanda-polisiekantoor afgelaai. Verbygangers het haar daar opgemerk en die polisie ingelig. Sy was ongedeerd.

“Die voertuig is nagespoor en naby die hoofpad in die Amatikwe-gebied gevind. Die verdagtes het te voet gevlug en is steeds soek.

“ʼn Paramedikus van Crisis Medical het die babadogtertjie ondersoek. Sy was opgewek en het geen beserings opgedoen nie. Sy is met haar uiters verligte gesin herenig.”

Volgens Marshall Security is die voertuig aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.