Kapers jaag met honde weg

Die vermiste honde, Sebastian, ʼn Dalmatiese kruising, en Stevie Wonder, ʼn beagle-kruising. (Foto: Verskaf)

ʼn Blommeboer van Pretoria is desperaat om haar honde op te spoor nadat kapers sowat ʼn week gelede met dié brakkies in haar Honda Jazz weggejaag het.

Tania Henkel (40) was op 3 Mei na haar huis in Moreletapark op pad toe die voorval omstreeks 16:50 by die M57- en Moonlightweg-aansluiting in Olifantsfontein aan die Oos-Rand plaasgevind het.

Sy werk in dié omgewing en ry die pad elke dag saam met haar viervoetige kamerade.

Tania Henkel is tans na haar honde opsoek. (Foto: Verskaf)

Henkel het by ʼn stopteken stilgehou toe twee gewapende mans haar motor genader het. Hulle het ʼn vuurwapen op Henkel gerig en haar gedwing om uit die voertuig te klim. Sebastian, ʼn Dalmatiese kruising, en Stevie Wonder, ʼn beagle-kruising, was oudergewoonte op die agtersitplek.

“Die kapers wou aanvanklik hê ek moet saam met hulle ry, maar ek het geweier. Ek het stadig uit die motor geklim terwyl ʼn vuurwapen op my kop gerig was. Ek het hulle gesmeek om my nie seer te maak nie en hulle het gesê ek kan gaan.

“Ek het gesê my honde is nog in die kar en hulle wou hê ek moes die honde uithaal. Ek het die honde geroep, maar om een of ander rede wou hulle nie uitspring nie. Ek verstaan nie hoekom nie en skop myself elke dag dat ek hulle nie gedwing het nie. Die kapers het toe met hulle in die voertuig weggejaag.”

Die vermiste honde, Sebastian, ʼn Dalmatiese kruising, en Stevie Wonder, ʼn beagle-kruising. (Foto: Verskaf)

Henkel sê sy is uiters dankbaar dat haar sewejarige seuntjie nie ook in die motor was nie.

“Nes die honde is hy gewoonlik ook saam met my. Genadiglik was hy nie dié dag in die kar nie.”

Henkel sê sy mis haar honde, wat ook soos haar kinders is, elke dag. Sy hoop dat die gemeenskap haar in haar soektog na hulle sal kan help.

Die opsporingstelsel in haar voertuig wys dat die kapers in die rigting van Tembisa gery het. Die laaste sein wat die opsporingstelsel opgetel het, was op die hoek van Brian- en Majubastraat.

Enigeen met inligting kan Henkel op 083 654 5663 skakel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tersia

Vieslike gemors! Ek hoop van harte jy kry jou woefies terug!

JM

En so gaan dit daagliks in hierdie misdaadhool van ‘n land! Here, gee asseblief uitkoms, dit kan nie so voortgaan nie!

Swerwer

So hartverskeurend dat die viervoetige kindertjies in sulke omstandighede geskei is van hul mens mamma. Sterkte en ek hou aan bid dat hul veilig sal wees en aan jou terug besorg sal word.

Astrain

Die kapers gaan nog die reward ook kom opeis…

Sandra

Ek hoop ten harte hulle vind die honde veilig en ongedeerd