Kapers kom hul moses teë in Gauteng

Foto ter illustrasie. (Foto:
Ivan Shemereko/Unsplash)

Talle gekaapte motors is die afgelope maande in Gauteng opgespoor en verdagtes vasgetrek, danksy kringtelevisiekameras wat naby paaie in dié provinsie aangebring is.

Die veiligheidsmaatskappy Fidelity het in Desember aangekondig dat hy sy vennootskap met Vumacam uitgebrei het om Gauteng met ʼn verdere 1 400 kringtelevisie-kameras toe te rus.

“In die afgelope drie maande het ons ʼn drastiese toename gesien in die aantal gekaapte motors wat in Gauteng opgespoor is,” sê Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van Fidelity.

Vier gekaapte motors is in Maart teruggevind en in drie van die gevalle is die verdagtes aan die polisie oorhandig om verder ondersoek in te stel. ʼn Verdere vyf gekaapte motors is in April aan hul eienaars terugbesorg en in Mei is 10 motors só opgespoor.

Volgens Bartmann het talle motors wat tydens kapings gebruik word, gekloonde nommerplate.

“Ons het ʼn geval in April gehad waar die kringtelevisie ʼn Volkswagen Golf 7 GTi met ʼn gekloonde nommerplaat in Rosebank waargeneem het. Die stelsel het die motor uitgelig as een wat tydens ʼn vragmotorkaping gebruik is. Dit was nie lank daarna nie, toe is die drie verdagtes en die motor deur die polisie vasgetrek en vir ondervraging ingeneem. Polisie het ook beslag gelê op twee onwettige handwapens.”

Later dieselfde maand het Fidelity ʼn silwer Ford Focus op die stelsel opgemerk wat betrokke was by ʼn mislukte motorkaping by Lifestyle Crossing in Roodepoort. Die voertuig se nommerplate is op die stelsel gelaai en dit het aan die lig gekom dat die motor nie ʼn eienaar het nie.

“Kort hierna het ons trefslae gekry van die motor wat op ander kameras in Gauteng bespied is. Fidelity en polisiebeamptes het die voertuig agternagesit en die bestuurder is in hegtenis geneem. Toestelle wat gebruik word om seine van motorsleutels te blokkeer is ook in die verdagte se kar gevind,” sê Bartmann.

In dié spesifieke geval is die Ford Focus se VIN-nommer getoets. Die nommer het ooreengestem met dié van ʼn motor wat betrokke was by ʼn saak wat by die Hillbrow-polisiestasie aanhangig gemaak is.

“Dit is duidelik dat ʼn geïntegreerde benadering, waar inligting gedeel word soos ʼn misdaad gepleeg word, ʼn merkwaardige verskil maak in die aantal gesteelde motors en gekloonde nommerplate wat opgespoor word. Die stelsel se vermoë om ʼn motor en nommerplaat bymekaar te pas en dan die geskiedenis daarvan op te spoor, is uiters doeltreffend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Danie ·

Goeie werk. Hoe ironies dat die polisie dit nie kan vermag nie maar eerder konsentreer om ons wapens te probeer weg vat.

pestilensie ·

Miskien moet hulle ou Cele vir so paar maande op n tegnologiese kursus stuur , sodat by die positiewe rol van tegnologie kan verstaan

Misky ·

Sien jy Cele, jy moet by die tye se tegnologie hou, want die skelms word net slinkser en skelmer by die dag. Wakker skrik kwagga!!!! Wel gedaan Fidelity

Estelle ·

Mooi so Fidelity!! Ons is trots op julle! Mense, jul moet darem onthou Cele was n uitstekende Strand wag. Dalk kan Fidelity hom in daardie hoedanigheid gebruik.

Sam ·

Hierdie is weereens ‘n bewys dat die tegnologie om misdaad te bekamp, beskikbaar en effektief is. As die ANC-mafia net wil ophou met hul roof van die staatskas, sal daar geld beskikbaar wees om misdaad te bekamp.
Dit is die kat in die hoed (raai, raai wie is dit…) se verantwoordelikheid om ‘n verskil te maak in die aanspreek van die misdaad probleem in SA, maar al waarin hy belangstel is om die bikini-lywe op die strande te trol en die boewe in die ANC te bemagtig om die staatskas te beroof.
Mag God ons van hierdie goddelose, kommunistiese anarchiste verlos en mag hul val volkome en spoedig wees. Ek bid vir hul snelle en ewige oordeel deur die regverdige God wat alle boosheid sien en daarop handel.

DIABLO ·

Wonderlike nuus. Ek wil egter nie my kar terug hê, sou dit gekaap word nie. Maak geen fout nie, ek is baie lief vir my voertuig, maar dit sal nooit weer dieselfde wees nadat hulle aan my kar gevat het met hulle vuil handjies nie. En op my sitplekke gesit het met hulle vuil agterente nie! Hou maar my Z4.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.