Kapers teiken nou ook motorhandelaars

Argieffoto

Die polisie waarsku lede van die publiek wat motors aanlyn koop of verkoop om op die uitkyk te wees vir kapers of swendelaars wat hulle voordoen as moontlike kopers of verkopers van motors.

Privaat speurder Mike Bolhuis sê mense moet baie versigtig wees om motors aanlyn of in gedrukte media te adverteer, omdat misdadigers as moontlike kopers daarop kan reageer en motorverkopers in lokvalle lei.

Kapers gebruik soms vervalste bestuurslisensies om voertuie by motorhandelaars of verkopers vir ʼn toetsrit te neem. Hulle sal dan stop en die motorverkoper by die motor uitgooi en wegry. Kapers kan ook by motorhandelaars in ʼn motor spring en ongesiens wegry sodra hulle die kans kry.

Bolhuis waarsku mense ook teen swendelaars wat hulle voordoen as motorverkopers en valse advertensies aanlyn plaas om moontlike motorkopers om die bos te lei en hul geld te steel.

“Swendelaars reël soms ʼn ontmoeting met die moontlike motorkopers en dring op kontant aan indien die koper belangstel om die motor te koop. Tydens die ontmoeting word kopers van al hul besittings en kontant beroof en met wapens gedreig. Kopers word soms ook gedwing om geld in die misdadigers se rekeninge oor te plaas of hul bankkaarte met die PIN-nommer te oorhandig,” sê Bolhuis.

Bolhuis sê dit is soms moeilik om ʼn advertensie as vals te identifiseer, aangesien dit redelik realisties lyk en selfs foto’s en die nodige besonderhede bevat.

“Misdadigers en swendelaars teiken verál aanlyn platforms, omdat goedere onmiddellik en vinnig verkoop kan word. Slagoffers kan ook makliker aanlyn geteiken word,” sê Bolhuis.

Swendelaars lok slagoffers deur motors teen ʼn onrealisties lae prys te adverteer.

Bolhuis gee ʼn paar wenke om te voorkom dat jy die volgende slagoffer van swendelary word:

  • Indien jy ʼn motor aanlyn adverteer, vra die potensiële koper om jou in ʼn openbare plek te ontmoet. Versoek ook dat die koper die nodige identifikasie vooraf wys.
  • Maak gebruik van SMS’e of opgeneemde oproepe in plaas van e-posse om verkope te reël, aangesien dit makliker is om op te spoor en as bewyse te gebruik.
  • As jy belangstel om ʼn motor te koop, moenie plekke by onbekende adresse besoek of jou huis- of werkadres bekend maak nie.

Bolhuis gee ook ʼn paar wenke vir motorhandelaars om kapings te voorkom:

  • Maak seker meer as een verkoopspersoon is tydens ʼn toetsrit in die motor.
  • Laat slegs een potensiële koper op ʼn slag toe om die motor te vat vir ʼn toetsrit.
  • Versoek dat motorkopers alle vorme van identifikasie kan verskaf.
  • Gaan moontlike motorkopers na vir enige wapens.
  • Die verkoopspersone moet hul selfoonligging te alle tye aanskakel en ʼn paniekknoppie-toepassing daarop installeer vir noodgevalle.
  • Stel die motorhandelaar se bestuur in kennis van enige toetsrit wat onderneem word.
  • Volg ʼn bekende roete wanneer ʼn motor vir ʼn toetsrit geneem word.

Bolhuis raai mense aan om enige verdagte gevalle dadelik by die naaste polisiestasie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.