‘Kapers’ vas ná hoëspoed-jaagtog

Die polisie by die gekaapte voertuig. Foto: Verskaf

Drie verdagtes is Maandag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem ná ʼn hoëspoed-jaagtog in Port Elizabeth.

Die polisie in die Oos-Kaap het in ʼn verklaring gesê die sukses volg nadat polisiebeamptes hul sigbaarheid in die Nelson Mandelabaai-metro verbeter het met die oog op die komende feesseisoen.

“Beamptes van die polisie se blitspatrollie-eenheid was teen 03:15 besig met roetinepatrollie op die M19 toe hulle ʼn wit VW Jetta opgemerk het, wat op 9 November as gekaap aangemeld is,” lui die verklaring.

“Die beamptes het probeer om die voertuig voor te keer. Een van die insittendes het egter ʼn vuurwapen op die beamptes gerig, waarna die verdagtes weggejaag het. Die polisie het hulle agternagesit en ʼn hoëspoed-jaagtog het gevolg.”

Die bestuurder van die gekaapte voertuig het vanuit die M19 in die Perseverance-omgewing ingedraai, waar ʼn patrollievoertuig van die Swartkops-polisie by die jaagtog aangesluit het.

“Die gekaapte voertuig is kort daarna vasgekeer en die drie insittendes is in hegtenis geneem.”

Die polisie het op die voertuig en ʼn vuurwapen beslag gelê.

Die drie verdagtes, twee mans onderskeidelik 27 en 32 jaar oud, en ʼn 21-jarige vrou, moet Dinsdag in die Motherwell-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn gekaapte voertuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.