‘Kapers’ vas ná moord op polisieman

Die vermoorde konst. Nkosiphedule Makeleni.

Die vermoorde konst. Nkosiphedule Makeleni.

Die inhegtenisname van twee vermeende kapers het die Kaapstadse polisie Woensdagaand gelei tot die persone wat moontlik verantwoordelik was vir die skietdood van ʼn beampte Dinsdagaand by ʼn laerskool in die stad.

“ʼn Slagoffer het die polisie in Kleinvlei omstreeks 20:20 ontbied nadat sy Opel Monza gekaap is. Die polisie was op patrollie in die gebied en het dadelik na die motor begin soek,” het lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, gesê. “Die motor is vinnig opgespoor en die twee verdagtes, onderskeidelik 22 en 32 jaar oud, is in hegtenis geneem en die motor is teruggekry.”

Traut het gesê die polisie was besig om die arrestasie uit te voer toe twee verdagtes in ’n Volkswagen Caddy hulle genader het en op hulle begin skiet het. Die verdagtes het weggejaag en is deur die polisie agternagesit en tot in die Harare-omgewing, suid van Khayelitsha, agtervolg. Daar is een van die insittendes doodgeskiet.

Die ander verdagte kon daarin slaag om te ontsnap. Die Caddy is deursoek en die polisie het twee vuurwapens gevind. Een van die vuurwapens was die dienspistool van die vermoorde konst. Nkosiphedule Makeleni (37) en die ander een die moontlike moordwapen.

“Omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek, maar ons het goeie rede om te glo dat hierdie verdagtes verantwoordelik was vir konst. Makeleni se moord,” het Traut gesê.

Die soektog na die verdagte wat ontsnap het duur voort.

Maroela Media het Woensdag berig Makeleni (37) was nie aan diens nie toe hy omstreeks 20:00 by die Ludwe Ngamlana Primary School in Kuyasa, Harare, doodgeskiet is. Hy het om 19:00 sy skof klaargemaak en het nog sy uniform aangehad toe hy vir sy dienspistool vermoor is. Makeleni was by die Simonstad-grensposeenheid gestasioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.