‘Kapers’ vas ná trok deur muur jaag

Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: EMPD

Twee vermeende kapers is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hulle beheer oor ʼn gekaapte vragmotor verloor en toe daarmee teen ʼn huis vasgejaag het.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), het gesê nadat verskeie vragmotors onlangs op die N3-snelweg gekaap is, het die EMPD begin om die snelweg te patrolleer op plekke en tye wanneer kapings gereeld voorkom.

Dinsdag kort voor middernag het metro- en voertuigopsporingsbeamptes op die N3-Suid in die Zonkizizwe-gebied ʼn gekaapte vragmotor onderskep. Volgens Kgasago is ʼn VW Polo, waarin die kapers se medepligtiges vermoedelik gery het, saam met die vragmotor aangetref.

“Die verdagtes in die VW Polo het op die metropolisie losgebrand en kon daarin slaag om in die nag in te verdwyn,” het Kgasago gesê. “Die vragmotor is egter agternagesit tot waar die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en daarmee in ʼn huis in Sunrise Blok D ingeploeg het. Die muur van die huis het gedeeltelik ineengestort en die eienaar van die huis, wat in die huis geslaap het, is beseer.”

Kgasago het gesê die twee verdagtes het uit die vragmotor gespring en probeer om te voet van die toneel te vlug, maar hulle is vinnig daarna in hegtenis geneem.

Die getraumatiseerde vragmotorbestuurder is later deur die metropolisie langs die R103 opgespoor. Hy was ongedeerd.

“Die verdagtes, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, is na die Zonkizizwe-polisiestasie geneem waar hulle aangekla is van die besit van ʼn gekaapte voertuig,” het Kgasago gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chevy ·

In besit van gekaapte voertuig is dit die enigste klag ?
Wat van poging tot moord en roekeloos bestuur?

Mike Kaapstad ·

Die arme huis eienaar gaan seker nie eers vergoed word nie , en die kapers klaar uit op borg……………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.