‘Kapers’ vas wat vragmotor met drank teiken

Die kratte alkohol wat in die bosse afgelaai is. (Foto: SAPD)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle glo Dinsdag saam met twee makkers ’n vragmotor wat alkohol vervoer in die Oos-Kaap gekaap het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die voertuig met ʼn vrag alkohol met ’n geraamde waarde van meer as R200 000 is omstreeks 10:30 op die N2 naby Van Stadens in die omgewing van Port Elizabeth deur vier mans in ’n wit Ford Bantam van die pad af gedwing.

“Drie van die verdagtes was gewapen en het die vragmotorbestuurder beveel om van die pad af te trek. Hulle het in die vragmotor geklim en die bestuurder en sy passasier agter die agterste sitplek ingedwing.”

Die vragmotor se opsporingstelsel het gewys die voertuig beweeg op die R75 naby Uitenhage en die owerhede het die vragmotor agternagesit. Die vragmotor is binne enkele minute opgespoor.

Die vuurwapen en ammunisie waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)

“Die verdagtes was besig om die alkohol in die bosse af te laai toe hulle skielik verras is deur ’n polisiehelikopter en lede van die blitspatrollie. Hulle het die vragmotor agtergelaat en in verskillende rigtings begin hardloop.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 48 jaar, is aangekeer.

Al die kratte alkohol is teruggevind terwyl daar beslag gelê is op ’n vuurwapen en toerusting wat gebruik word in kapings.

Die twee verdagtes staan nou tereg op aanklag van vragmotorkaping en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Hulle sal na verwagting binnekort in ’n hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

Baie dankie – dit is lekker om so iets positiefs te lees.

Zandra

fantasties, dit help nie om sulke dom dinge aan te vang nie, jy gaan boed partykeer sommer dadelik :-) my toontjies krul sommer

Ansie

Knap gedaan!