‘Kapingsalarm nie bemanning of vliegtuig se skuld’

Foto: ANA

Foto: ANA

Airlink het Dinsdag weer om verskoning gevra vir die vals alarm dat ʼn vliegtuig Maandag gekaap is, en gesê sy aanvanklike ondersoek dui daarop dat sy vliegtuig of vlieëniers nie verantwoordelik is vir die fout nie.

Maroela Media het vroeër berig passasiers was ure lank op Wonderboom-lughawe, noord van Pretoria, gestrand ná ʼn valse kapingsalarm deur Vlug SA8678, van Kaapstad Internasionale-lughawe. Die vliegtuig sou om 12:15 by Wonderboom land, en gerugte het omstreeks 12:00 die ronde begin doen dat die vliegtuig gekaap is.

Rodger Foster, besturende direkteur en uitvoerende hoof van Airlink, het gesê die lugredery het sy eie ondersoek van stapel gestuur oor die voorval en die vliegtuig is ondersoek. “Daar was geen foute nie en die vliegtuig se sender het normaal gewerk. Ons het ook bevestig dat die vlieëniers geen wysigings aan die sender se identifiseringskode aangebring het wat ʼn kapingsein sou uitstuur nie.”

Volgens Foster is die “enigste logiese verduidelik” dat daar ʼn ander oorsaak moet wees waarom die sein vlugtig op die lugbeheer se radar vertoon het. “Die fout lê nie by die vliegtuig, sy stelsels of ons bemanning se optrede nie,” het hy benadruk.

Hy het gesê Lugbeheernavigasiedienste is ook versoek om sy stelsels na te gaan.

Die lugredery het gesê hy sal owerhede bystaan met verdere ondersoeke. “Dit is noodsaaklik na só ʼn voorval,” het Foster gesê.

Airlink het ook om verskoning gevra vir enigiemand wat deur die voorval geraak is.

Passasiers het hul familielede en vriende, wat angstig in die aankomssaal gewag het, omhels en gesoen toe hulle mekaar sien.

Beamptes van die spesiale polisie-eenhede het op die lughawe toegesak kort nadat die kapingsalarm ontvang is. Die taakmag, beamptes van die polisie se lugvleuel, die Tshwane-metropolisie en paramedici was ook op die toneel. ʼn Gedeelte van die lughawe is afgesper en televisiespanne was ook op die toneel.

Lees alle vorige berigte oor die Airlink-kapingsalarm op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ouman ·

Logika is duidelik nie die sterkpunt van SA Airlink se verteenwoordigers nie. Dalk was dit ‘n spook wat die sein gestuur het.

Ekke ·

Aan anderkant………goeie oefen lopie vir as so iets wel gebeur….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.