‘Kapingsindikaat’ vasgetrek

Argieffoto

Drie verdagtes van die Wes-Kaap, tussen 21 en 29 jaar oud, wat verbind kan word met altesaam 17 kapings van Uber- en meter-taxis tussen Oktober en Januarie is Vrydag in hegtenis geneem.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die meeste van dié kapings het in Kuilsrivier, Kleinvlei en Mfuleni plaasgevind. Kapings is egter ook in Stellenbosch, Macassar en Somerset-Wes aangemeld.

Hy sê die verdagtes het dieselfde werkswyse gevolg om die taxi’s te kaap. “Die verdagte sou ʼn Uber- of meter-taxi bestel en dan vir die bestuurder vra om na ʼn sekere gebied te ry. Die verdagtes sou gewoonlik voor in die motor aan die passasierskant sit en agter die bestuurder. Die verdagte voor sou dan ʼn pistool uithaal en die verdagte wat agter die bestuurder sit, sou hom dan verwurg.

“Die verdagtes sou dan voortgaan om die bestuurder van sy selfoon en ander waardevolle items te beroof, hom uit die motor gooi en dan wegjaag,” het hy gesê.

Van Wyk sê daar was ook al gevalle waar die verdagtes die bestuurder in die kattebak van die motor ingedwing het, na ʼn verlate area gery het en dan te voet verder gevlug het.

Hy sê die verdagtes sal Maandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Dit bly verstommed hoe die SAPS en JMPD altyd weet WAAR die kapings plaasvind, en selfs motoriste daarteen WAARSKU, pamflette uitdeel oor watter gebiede om te vermy, onophoudelik ADVIES gee oor hoe om die kapings-risiko te verminder………..maar hulle kan NIE die kapers vastrek nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.