Kapingslagoffer se vermeende moordenaar eindelik vervolg

Isabel van Coller en Harriet Ackermann (Foto: Facebook)

Die man wat beskuldig word van die moord op Isabel van Coller twee jaar gelede in Johannesburg, gaan eindelik vervolg word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vroeër namens Harriet Ackerman, Van Coller se tweelingsuster, by die saak ingegryp nadat sy geen sinvolle terugvoer oor vordering met die saak ontvang het nie.

Van Coller is die oggend van 15 November 2019 tydens ’n kaping in Bramley, Johannesburg, doodgeskiet. Verskeie verdagtes is kort daarna met Van Coller se selfoon in hul besit in hegtenis geneem.

Geen klagte is egter teen hulle aanhangig gemaak nie en Ackerman is ingelig dat hulle nie met die kaping verbind kon word nie.

In Maart verlede jaar het die staat Ackerman ingelig dat ander verdagtes wat bekentenisse gemaak het, in hegtenis geneem is en dat die saak in die hooggeregshof verder gevoer sou word.

AfriForum sê egter die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om nié vervolging in te stel nie en dat ’n formele geregtelike doodsondersoek (GDO) eerder gedoen sou word.

“Volgens Ackerman is sy geensins ingelig oor hierdie besluite of die datum van die beplande GDO nie. Die aanklaer in die saak het bloot op ’n navraag van Ackerman na bewering geantwoord dat hy nie die saak kan onthou nie en in die kantoorlêer sou moes kyk,” lui die verklaring.

“Die NVG het AfriForum ook vroeër vanjaar in kennis gestel dat die dossier in die landdroshof vermis geraak het. Die polisie moes die dossier hersaamstel voordat die verdagtes uiteindelik aangekla kon word.”

Die saak teen die beskuldigde is Woensdag in die Johannesburgse landdroshof na 17 Januarie uitgestel vir die opsporing van nog ’n verdagte. Die saak sal dan oorgeplaas word na die Johannesburgse hooggeregshof.

Die beskuldigde wat op grond van beeldmateriaal van die kaping blykbaar die skoot afgevuur en in Van Coller se motor weggejaag het, staan tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Natasha Venter, raadgewer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die organisasie verwelkom die vervolging en sê dit is betreurenswaardig dat die saak aanvanklik onttrek is sonder  enige samesprekings met die slagoffer se naasbestaandes – des te meer omdat die slagoffer se suster vir die NVG werk.

“Die samelewing het die reg om bekwame, rasionele en redelike optrede van die NVG te verwag. Die lakse optrede van die aanklaer in hierdie saak sou daartoe gelei het dat niemand ooit vir die dood van Van Coller vervolg kon word as die privaatvervolgingseenheid nie toegetree het nie,” sê Venter.

Volgens Venter is dít ’n verdere voorbeeld waar die NVG eintlik die proses van geregtelike doodsondersoeke wou misbruik om sy verantwoordelikheid te ontduik om skuldiges te vervolg deur agter die besluite van ’n landdros te skuil.

“Dit is tog duidelik dat ’n vervolging van die staanspoor in hierdie saak moontlik en noodsaaklik was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Shakespeare ·

Ek het gedink Batoyi sou ‘n aanwins vir die NVG wees maar sy is maar net nog ‘n useless kader aanstelling wat ‘n enorme salaris kry vir niks.

Moedeloos ·

Dit is darem lekker om te lees hoe dokumente en verslae net wegraak in Staatskantore. Niemand neem verantwoordelikheid nie. Trek skouers op en basta met die res.

Hasie ·

Ek dink regtig dat Agriforum moet maar die plaaslike vervolgingsgesag word .Hul kry dinge gedoen …

Antoinette ·

Dit is nou die hoeveelste saak wat ek van lees, wat die NVG nie vervolg nie.
Hartseer om te besef dat mense se moord net mooi niks beteken vir ons land.

Di ·

As jy my vra moet die hele SPUL by Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervang word, korrupte, onbevoegde slegte klomp. Hulle is die hoofrede dat kriminele die land oorneem want hulle kom weg daarmee. Sal graag wil weet WIE sit almal in die NVG, laat my raai – almal seker ANC kaders

Veronica ·

My mond hang oop! Wat nog!! n Vrou word dood geskiet en wat word gedoen? Geregtelike doodsondersoek word aan gevra!!! Onbekwaam en lui! Om te vervolg beteken mos dat hulle eintlik werk moet doen! Ek het nie woorde nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.