Kapingsvideo: “Dis maar dinge wat gebeur”

SOG het die foto op sy Facebook-blad gelaai.

SOG het die foto op sy Facebook-blad gelaai.

Willem Bester (44), die man van South Crest in Alberton wat Dinsdagaand in die oprit van sy huis geskiet en gekaap is, wil so gou as moontlik uit die hospitaal ontslaan word.

Lizette, Willem se vrou, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar man gaan Vrydag uit die Unie-hospitaal se hoësorgeenheid na ʼn gewone saal oorgeplaas word, en behoort na verwagting Saterdag of Sondag ontslaan te word. “As dit van hom afhang sal hy nou al huis toe kom,” het Lizette gesê.

Maroela Media het vroeër berig Willem is Dinsdagaand omstreeks 19:30 gekaap. ʼn Plaaslike veiligheidsmaatskappy, Special Operations Group (SOG), het beeldmateriaal van die kaping op sy Facebook-blad gelaai.

Lizette sê dit wil voorkom of Willem nie te veel deur die voorval, waartydens hy vier keer geskiet is, getraumatiseerd is nie. “Hy het aan my gesê dit is maar dinge wat gebeur. Dit lyk nie of dit hom veel pla nie, maar dit sal hom dalk tref as hy weer terug is by die huis.”

Oor die aand se gebeure het sy gesê sy was geskok toe sy die vier skote hoor. Sy het deur die venster gekyk en gesien wat gebeur. “Ek het gedink my man is dood. Ek het dadelik die deur gesluit en na my seuntjie, Hein, (20 maande) gehardloop. Hy het baie gehuil. Alles het so vinnig gebeur, dit was binne ʼn minuut verby. Ek was geweldig verlig toe ek my man by die agterdeur sien. Hy was kalm en het vir my gesê hy is geskiet en ek moet hulp ontbied,” verduidelik Lizette.

Die video wys hoe Willem in ‘n wit Volkswagen Polo uit sy erf ry en deur ‘n ander voertuig versper word. Willem ry vinnig terug in die erf in voor twee kapers uit die ander motor spring en na sy Polo hardloop. Een man het in die ander voertuig bly sit. Die twee mans skiet dan op Willem van albei kante van sy voertuig, waarna hy uit die voertuig gepluk en aangerand is. “ʼn Derde man het toe aangehardloop gekom en my man se horlosie en geweer gevat, waarna hulle met sy voertuig gevlug het,” het Lizette bygevoeg.

Sy het gesê Willem het dadelik onraad vermoed toe hy die ander voertuig sien en het ʼn voorgevoel gehad dat iets sleg gaan gebeur.

Willem is in albei arms en in sy ribbe getref. ’n Koeël het sy linkerarm gebreek en nog een het oor sy buik geskraap.

SOG en Tracker het die voertuig later verlate in Katlehong opgespoor. Die voertuig word tans by die polisie in Benoni geskut. Lizette het gesê sy hoop haar versekering skyf die voertuig af. Dit is glo erg verwoes soos wat die kapers die binnekant van die voertuig oopgesny het om na die Tracker-toestel te soek. “Ek wil dit glad nie terug hê nie,” het sy gesê.

Klik hier om die video te sien. WAARSKUWING: Die beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.