Kapp trek Protea-wa deur drif

Marizanne Kapp vier die Proteas se spogoorwinning in die laaste boulbeurt. Foto: Michael Bradley.

Trek solank die stofsuier nader om die rooi tapyt mooi te maak, want as dinge so aangaan sal dit binnekort vir die Protea-vrouekrieketspan uitgerol word.

Ja, daar moet weliswaar nog eers baie water in die see loop (lees: belangrike wedstryde teen Australië en Indië) voor daar met hierdie uitrolsessie begin kan word, maar Marizanne Kapp verdien ongetwyfeld ’n heldeontvangs.

Die veelsydige ster het vandag weer eens ’n belangrike rol in die Protea-vrouekrieketspan se spogsege teen Nieu-Seeland in Hamilton gespeel.

Suid-Afrika het die naelbytkragmeting met twee paaltjies in die laaste boulbeurt van die wedstryd gewen.

Dit was hul eerste oorwinning teen Nieu-Seeland in ’n Wêreldbeker-wedstryd, terwyl hulle ook die eerste span in vanjaar se toernooi geword het om ’n wedstryd in Hamilton te wen nadat hulle eerste geboul het.

Met die Suid-Afrikaners se telling op 161/2 in die 36ste beurt, het ’n Protea-sege na ’n blote formaliteit gelyk.

Laura Wolvaardt (67) en Suné Luus (51) was voor die paaltjies en die wentelling van 229 was glad nie te ver weg nie.

Maar die Proteas het vyf paaltjies vir slegs 40 lopies verloor en die spreekwoordelike Kiwi-kat is in die Suid-Afrikaners se duiwehok losgelaat.

Kapp het egter koelkop gebly en het met ’n paar verstommende houe haar span binne trefafstand gekry.

’n Kragtige mokerveeghou in die laaste boulbeurt – toe daar ses lopies vir ’n oorwinning benodig is – het die wedstryd so te sê vir die Proteas beklink.

“Hierdie naelbytwedstryde moet nou end kry!” het ’n laggende Kapp gesê nadat sy haar speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Volgens die Protea-ster vuur die span steeds nie op alle suiers nie, ondanks seges teen Bangladesj, Pakistan, Engeland en die Kiwi’s.

“Ek dink ons het beter teen Engeland geboul, terwyl ons kolwers sterker sal moet vertoon. Kanse is egter goed dat alles binnekort vir ons in plek sal val.”

Die Proteas speel Dinsdag teen Australië in Hamilton.

  • Speler van die wedstryd: Marizanne Kapp (2/44 en 34*)
  • Opsomming van telkaart:

Nieu-Seeland 228/10 in 47,5 boulbeurte: Sophie Devine 93, Shabnim Ismail 3/27 en Ayabonga Khaka 3/31.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

B-Man ·

Ek is deesdae opgewonder vir die uitslae van die vroue se wedstryde as vir die mans s’n.

Hennie Biebouw ·

Wel gedaan. Sover is dit absoluut die Laura Wolvaardt roadshow.
Die “Instagram influencer” in die span sal moet sokkies optrek. ‘n Gemiddeld van 6.75 na 4 wedstryde is nie aanvaarbaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.