Kapsie teen mynaktiwiteit aan die Oos-Kaapse kusgebied

Kaap St Francis (Foto: NJR ZA/Wikimedia Commons)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het kommentaar ingedien op die beoogde eksplorasie-aansoek in ’n streek van die kusgebied tussen St. Francisbaai en Mosselbaai.

SLR Consulting doen namens Total SA aansoek om 11 gate aan die kusgebied as eksplorasieputte te boor. Dié gebied is onontbeerlik vir die mariene biodiversiteit aan die Suid-Afrikaanse kuslyn. Boonop is daar ’n beskermde mariene gebied net suid van die beoogde prospekteergebied.

AfriForum het verskeie vrae uiteengesit in sy kommentaar omdat die openbaredeelnameproses in webinaar-formaat aangebied is en nie juis toeganklik was vir alle lede van die publiek nie. Tydens die vergadering het beurtkrag plaasgevind en dus meen AfriForum dat die proses uitgestel moet word totdat dit meer toeganklik is vir alle lede van die gemeenskap en totdat die Covid-19-pandemie verby is.

“Die vergadering was nie baie toeganklik nie omdat ek nie direk kon stellings maak of vrae vra nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake. “Verskeie lede van die gemeenskap wat betrokke wou raak kon ook uiteraard nie, omdat nie almal toegang tot die internet het nie.”

De Klerk het benadruk AfriForum is nie teen enige bestaande of beoogde mynaktiwiteite gekant nie, maar as beskermer van die omgewing is dit belangrik om aan alle prosesse en prosedures deel te neem om te verseker dat gemeenskappe en die land beskerm word.

Klik hier as jy betrokke wil raak by die saak of SMS jou naam na 45354 (R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.