Kapsie teen regering se ‘onbepaalde’ rook- en drankverbod

Restaurante in Paternoster in die Wes-Kaap het op 22 Julie 2020 deelgeneem aan ‘n betoging teen die voortgesette alkoholverbod (Foto: Alida Buckle/verskaf aan Maroela Media)

JONGSTE: Regering krabbel skielik terug oor rook- en drankverbod

Organisasies het Woensdag sterk teenkanting gebied teen die regering se uitlating dat die verbod op die verkope van alkohol en tabakprodukte van krag sal bly gedurende die afsonderingstydperk.

Die Fair-trade Independent Tobacco Association (Fita) het in ʼn verklaring ʼn beroep gedoen op die regering om onmiddellik duidelikheid te verskaf oor die uitlating. “Hierdie verklaring is teenstrydig met die regering se vorige standpunt oor hierdie kwessie,” het Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, in ʼn verklaring gesê.

“Pres. Cyril Ramaphosa en minister Jackson Mthembu het albei verskeie kere in die openbaar bevestig dat dit slegs ʼn kwessie van tyd is voor die verbod op die verkope van tabakprodukte opgehef sal word.”

Volgens Fita het Mthembu tydens ʼn perskonferensie op 29 Mei 2020 gesê: “Die verbod op sigarette, is net vir hierdie vlak waar ons nou is. Ons weet nie vir hoeveel weke lank ons op hierdie vlak gaan bly nie. Ek kan jou verseker dat, as ons klaar is met vlak drie, ek nie kan sien hoe die verbod sal voortduur nie.”

Mnguni het gesê die regering se verklaring vandag wek egter die indruk dat die regering geen plan het om die verbod tydens enige vlak van die afsonderingsperiode op te hef nie.

“Hierdie standpunt sal natuurlik ernstige gevolge inhou vir die fiskus, die bedryf in sy geheel en diegene wat ʼn bestaan maak uit die bedryf. Ons doen dus ʼn beroep op die regering om dringend sy standpunt hieroor te verduidelik.”

Dean Macpherson, die DA se skaduminister van handel en nywerheid, het gesê die Demokratiese Alliansie verwerp die regering se uitlating met die grootste minagting. “Hierdie onbepaalde verbod kan weke lank voortduur of selfs tot in 2021 toe,” het Macpherson in ʼn verklaring gesê.

“Wat die regering vandag gedoen het, is om die middelvinger te wys vir elke persoon wat in die tabak- en alkoholbedryf werk. Soveel te meer nog vir restauranteienaars, sjefs en kelners wat vandag betoog het teen die voortgesette verbod op die verkope van alkohol.”

Macpherson het gesê uit die regering se optrede vandag is dit duidelik dat pres. Ramaphosa niks meer is as ʼn toeskouer tot die ideologiese nukke en grille van minister Nkosazana Dlamini-Zuma nie.

“Vandag se aankondiging is heeltemal teenstrydig met die regering se eie risikoaangepaste benadering wat toegewings maak vir die verkope van tabak en alkohol. Hierdie verbod is niks meer nie as ʼn poging om die aandag af te trek van die regering se versuim om hospitaalbedkapasiteit in meer as 100 dae te verhoog en tien duisende mense betaal nou vir dié pligsversuim met hul werk. Die waarheid, is, so lank as wat pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinetministers ʼn werk het, sal miljoene mense nie werk hê nie.

“Die regering het lankal enige rasionele denke of outoriteit laat vaar tydens die Covid-19-pandemie. Vandag is net ʼn herinnering vir hul absolute minagting vir mense se lewensbestaan. ANC-politiek oortref wat die beste is vir Suid-Afrikaners wat so desperaat is om net aan te gaan met hul lewens en ʼn inkomste vir hul families te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Dis mos logies ….. die kaders maak geld uit die verkope van sigarette en drank op die swart mark en hulle gebruik Covid-19 om hulle gravy train langer te laat loop

Pieter ·

Het nog altyd gese julle ANC komuniste kannie eers kar best nie wat nog van n land julle is een groot sirkus. Julle is n verleentheid vir die land dit is al wat julle is

Willem ·

Ek dink dit is tyd dat my lewe nie deur ander beheer word nie. Ek nou gaaivol

Pieter ·

Die meeste van S.A se mense is Gatvol Verby vir Ramaposa, Ace Magashula, en hul Kopdoek suster………As ek een van hulle is, sal ek te bang wees om my gesig in openbare plekke te wys. Die land se mense verarm en verhonger, maar die ANC politici oorvreet hulle aan koningskos elke dag en word nog beskerm ook teen die man op straat ook………Wonder of hulle weet wat het met Marie Antoinette gebeur met die Franse Revolusie ?…….Sy het net soos hulle nou gemaak destyds………….toe die Volk honger gely het vir brood….het Marie Antoinette( lees Cyril En Nkosana)……..vir die Volk laat weet….”By gebrek aan brood, kan julle mos Koek eet”………….en toe sterf sy onder die valbyl/guillotine.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.