Kaptein Dean tevrede met terugvegpoging

Tom Latham en Dean Elgar ná die reeks tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika gelykop geëindig het. Sanka Vidanagama / AFP.

Die Protea-boulers het vandag net meer as 41 boulbeurte benodig om die tweede en laaste toets teen Nieu-Seeland met 198 lopies te wen.

Sodoende eindig die reeks gelykop nadat die Suid-Afrikaners die eerste toets met ’n beurt en 276 lopies verloor het.

Nieu-Seeland sal dus nóg ’n bietjie langer moet wag om ’n toetsreeks teen die Proteas te wen.

As kaptein het Dean Elgar baie om op trots te wees: Sy dapper besluit om eerste te kolf, Sarel Erwee en Kyle Verreynne se honderdtalle, die vuur en passie waarmee Kagiso Rabada geboul het en Keshav Maharaj se bydrae as die enigste draaier in die toets.

“Dit was inderdaad ’n dapper besluit om eerste te kolf; een wat eintlik lelik kon skeefloop. Gelukkig het dinge goed vir ons uitgedraai,” het Elgar ná die afloop van die wedstryd gesê.

Volgens die openingskolwer is elke toetsoorwinning belangrik, maar hierdie oorwinning smaak net ’n bietjie soeter – veral omdat die span in die eerste toets binne drie dae gehensop het.

Hy erken dat daar nog harde werk op die Proteas wag.

“Jy moet lopies in jou eerste beurt aanteken en 20 paaltjies neem om ’n wedstryd te wen; iets wat ons nie in die eerste toets gedoen het nie. Dit sal lekker wees as ons vir ’n slag kan voorloop in ’n reeks en nie heeltyd hoef terug te baklei nie.

“Maar ons het ’n jong en talentvolle groep spelers. Ons sal aanhou hard werk en ons sal uiteindelik presteer soos wat ek weet ons kan.”

Rabada het agt paaltjies in die toets geneem, terwyl sy 47 lopies vir Verreynne gehelp het om die Proteas se tweede kolfbeurt weer op koers te kry.

Die snelbouler is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

“Dit is nooit maklik om teen Nieu-Seeland te speel nie en ons het geweet wat ons moes doen om die wedstryd te wen. As ’n snelbouler sou ek veel eerder heeltyd op die eerste toets se kolfblad wou boul as op hierdie een. Die blad was stadiger en ons moes nou takties baie slimmer gewees het,” het Rabada gesê.

Die Proteas se volgende toetsreeks begin op 30 Maart teen Bangladesj in Durban; hul laaste rooibalkrieketreeks vóór Mark Boucher se tugverhoor in Mei.

  • Opsomming van die telkaart:

Proteas 364/10 in 133 boulbeurte: Sarel Erwee 108, Aiden Markram 42 en Neil Wagner 4/102.

Nieu-Seeland 293/10 in 80 boulbeurte: Colin de Grandhomme 120*, Daryl Mitchell 60 en Kagiso Rabada 5/60.

Proteas: 354/9 in 100 boulbeurte: Kyle Verreynne 136*, Kagiso Rabada 47 en Matt Henry 2/81.

Nieu-Seeland 227/10 in 93,5 boulbeurte: Devon Conway 92, Kagiso Rabada 3/46 en Marco Jansen 3/63.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Mooi manne. Dis jammer die reeks was net 2 toetse, ons manne het net begin hul voete vind.

Chris dupreez ·

Stem saam Piet. Ek dink dit is belaglik n toetsreeks met net twee toetse. 3 of meer

Casper ·

Gelukkig het nie een van ons boulers “honderdtalle”aangeteken met die boulwerk nie maar;
1 Elgar se besluit om eerste te kolfblad was die regte besluit en nie ‘n dapper besluit nie.Die kolfblad het net in die eerste uur hulp verleen aan die boulers as hulle in die regte areas geboul het.
2 Jy het altyd ‘n goeie vennootskap of twee nodig om druk op jou opponente te plaas en ‘n voorspring op te bou.
3 Die 71 voorsprong klink nie baie nie maar toe kom Verreyne se 136 en Kagiso se 47 van 34 balle en die wenteiken hat die Black Caps se veggees geblus.
3 Markram het weereens teleurgesteld en daar moet nou na jong bloed gekyk word.Ek weet baie gaan my stenig maar my keuse is Dewald Brevis wat konstant 100 en 50 talle aanteken.Keegan Petersen moet nog terugkom.
Ten slotte net dit Kagiso laat my tone omkrul van lekker kry as hy kom kolf.Hy is vreesloos en weet hoe om die wilgerlat te swaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.