Kaptein Dean trek wa deur drif

Temba Bavuma en Dean Elgar vier Suid-Afrika se oorwinning. Foto: Phill Magakoe/AFP.

In moeilike tye is dit goed om iemand soos Dean Elgar langs jou in die loopgraaf te hê. Want die Suid-Afrikaanse hardebaard-toetskrieketkaptein het met sy onoorwonne 96 toegesien dat die Proteas vir Indië met sewe paaltjies in Johannesburg geklop het.

En dit was omtrent vir jou ’n vegtersbeurt.

Die 34-jarige openingskolwer is verskeie kere raakgeboul, hy het die druksituasies met gemak hanteer en hy het hoegenaamd nie vir Indië se battery snelboulers teruggestaan nie.

Toe die spel uiteindelik vanmiddag ná verskeie reënonderbrekings hervat is, het hy eerstens saam met Rassie van der Dussen (40) die wind uit die Indiërs se seile met hul vennootskap van 82 om die derde paaltjie gehaal.

Daarna het hy en Temba Bavuma (23*) gekolf asof hulle in ’n eendagwedstryd speel.

Dit het grenshoue gereën en Elgar het heel gepas die wenlopies met ’n vier van Ravichandran Ashwin se boulwerk geslaan.

Nie net het die spogoorwinning gesorg dat sake nou gelykop ná twee toetse is nie, maar dit is ook die eerste keer dat Suid-Afrika vir Indië in ’n vyfdagwedstryd op die Wanderers kon ore aansit.

En in die deurmekaarspul waarin Suid-Afrikaanse krieket hom tans bevind, moet dit een van die Proteas se beste seges in ’n lang ruk wees.

Die derde en beslissende toets begin volgende Dinsdag op Nuweland.

Opsomming van telkaart:

  • Indië 202 in 63,1 boulbeurte: KL Rahul 50, Marco Jansen 4/31, Kagiso Rabada 3/64 en Duanne Olivier 3/64.
  • Suid-Afrika 229 in 79,4 boulbeurte: Keegan Petersen 62, Temba Bavuma 51 en Shardul Thakur 7/61.
  • Indië 266 in 60,1 boulbeurte: Ajinkya Rahane 58, Cheteshwar Pujara 53, Lungi Ngidi 3/43 en Marco Jansen 3/67,2.
  • Suid-Afrika 243/3 in 67,4 boulbeurte: Dean Elgar 96*, Rassie van der Dussen 40 en Ravichandran Ashwin 1/26.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack Russ1 ·

Ek sien hier is weer klomp mense wat nie omgee oor SA krieket nie, maar wil net hulle stemme laat hoor.

As jy nie omgee nie, hoekom kommentaar lewer?

NEO ·

Ou Jack, jy het die kat aan die stert beet. Ek stel belang in krieket maar ondersteun nie die knieg buigers nie.

Eddie ·

Nee wat NEO, “kat aan die stert beet” argument werk nie. As jy nie die “knie-buigers” ondersteun nie, kan jou kommentaar maar elke keer “voel vere” wees, as dit jou gelukkig hou (elke voël sing soos hy gebek is). Jy stel belang in krieket – vir watter span voel jy nie vere nie? Gister se oorwinning was uitstekend, het elke oomblik van daai laaste 1-2 ure geniet.

piet ·

Nou hoekom lewer jy kommentaar by ‘n berig waar die Proteas betrokke is? Gaan ondersteun ‘n ander span en gaan lewer kommentaar daar.

Dirk Mostert ·

Ek het Bavuma gekritiseer vir sy stadige kolfwerk inn die wereldbeker. In die afgelope twee toetse was hy ‘n staatmaker.

piet ·

Puik prestasie deur die manne. Dis nie aldag dat ‘n span hierdie tipe veggees wys deur daai aantal lopies aan te teken in ‘n finale beurt en op ‘n moeilike blad om die wedstryd te wen nie. Die span het karakter. Ook die eerste keer dat ons Indie in ‘n toets op die Wanderers klop wat dit nog meer merkwaardig maak. Nou moet Markram nog net begin lopies aanteken ook, hy is tot baie beter in staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.