Karabo Mokoena-saak: ‘Daar wás gewelddadige voorvalle’

Die foto van Karabo Mokoena wat op haar vermiste persoon-plakkaat versprei is

ʼn Vriendin van Karabo Mokoena, wat na bewering deur haar kêrel, Sandile Mantsoe, vermoor is, het Dinsdag in die hof getuig dat sy gewelddadige voorvalle tussen die paartjie aanskou het.

Mantsoe staan tereg op aanklag van moord op Mokoena (22) asook dat hy glo haar liggaam verbrand en in ʼn veld gelos het. Hy het skuld ontken en gesê sy het selfmoord gepleeg.

Haar verkoolde liggaam is op 29 April in ʼn sloot in Bramley gevind, ʼn dag nadat sy as vermis uit haar kêrel se woonstel aangemeld is.

Puleng Mthethwa, Mokoena se vriendin, het gesê sy het haar laas op 19 Maart 2017 in Soweto lewend gesien. Mokoena en Mantsoe het oorkant haar gesit en sy het hulle gaan groet.

“Sandile het my arm gegryp en gevra hoekom ek hom nie eerste groet nie aangesien hy die hoof van hul huishouding is. Ek het toe vir Karabo weggeneem en weer later teruggebring na Sandile,” het Mthethwa gesê en bygevoeg dat sy in ʼn stadium tydens die verhouding elke naweek tyd saam met die paartjie deurgebring het.

“In die begin was hulle baie liefdevol totdat ek voorvalle sien gebeur het,” het sy gesê. Sy het Mokoena sedert 2014 geken en Mantsoe sedert 2016.

“Die eerste voorval was toe Sandile haar foon stukkend gegooi het toe Karabo geweier het dat hy sy vingerafdruk op haar iPhone plaas. Ons het by die huis gekom ná ons ʼn vriend by die lughawe afgelaai het. Sandile het gesê hy sal tot tien tel en as sy nie vir hom die foon wou gee nie, sou hy dit stukkend gooi.”

In die tweede voorval het Mokoena vir Mantsoe gevra of hy vir die beskadigde foon sou betaal. Hy het nee gesê, haar aan die nek gegryp en teen die muur vasgedruk omdat hy gevoel het sy het nie respek teenoor hom betoon nie.

Mthethwa het gesê in ʼn ánder voorval het sy televisie gekyk toe sy ʼn onderonsie tussen Mantsoe en Mokoena aangehoor het voor hy die naakte meisie oor ʼn glastafel gegooi het.

Mokoena se sussie Bontle het vroeër aan die hof gesê sy het, terwyl hulle na Karabo gesoek het, op beeldmateriaal gesien hoe sy Mantsoe se woning binnegaan en verlaat.

Bontle het gesê Mantsoe en haar suster se verhouding het in 2016 begin en agt maande lank geduur voor hulle dit net voor haar verjaardag op 27 Maart verbreek het.

Karabo se gesin kon haar nie in die hande kry op haar verjaardag nie. Sy het die volgende dag gebel om te sê sy was in die hospitaal met beserings ná Mantsoe haar aangerand het.

Bontle het gesê Karabo se oog, been en skouer was gekneus. Sy het Karabo teruggeneem na Mantsoe se woonstel en aangesê om haar goed te kry sodat hulle kon huis toe gaan. Karabo het egter geweier aangesien sy nie wou gehad het haar pa moes haar in daardie toestand sien nie.

Die susters het ooreengekom dat Karabo na haar vriendin se huis sou gaan. Sy het daarna huiswaarts gekeer waar sy gebly het tot 28 April toe sy vermis geraak het.

Bontle het vir die hof gesê sy en ander mense het Karabo by Mantsoe se woonstel gaan soek waar die bestuurder van die gebou vir hulle beeldmateriaal gewys het waar Karabo die gebou binnegaan en verlaat.

ʼn Veiligheidswag het ook vir hulle Karabo se paspoort en ID-boekie gewys wat hy in ʼn vuilgoedblik langs die kompleks aangetref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Al ·

Hierdie is ñ klassieke geval van ñ vrou of man wat glo daar steek nie iets boos in die ander party nie en tekens ignoreer.
My hart bloei vir haar familie.

Gerrit ·

Geen doodstraf= geen vrees om n ander se lewe te neem nie??

Nettie ·

Hy beweer sy het selfdood gepleeg – ek veronderstel sy het haarself toe ook aan die brand gesteek nádat sy selfdood gepleeg het???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.