Karabo Mokoena-saak: Kêrel hoor sy lot

Sandile Mantsoe in die hof (Foto: ANA)

Sandile Mantsoe is Woensdag in die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op sy vriendin, Karabo Mokoena (22), in April 2017.

Mantsoe het Mokoena vermoor en daarna haar liggaam verbrand in ʼn poging om die moord weg te steek. Waarnemende regter Peet Johnson het Mantsoe ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Mantsoe het deurentyd tydens die verhoor ontken dat hy Mokoena vermoor het en aangevoer sy het selfmoord gepleeg.

Mokoena, ʼn student aan die Regenesys-sakeskool, se verkoolde liggaam is op 29 April 2017 in ʼn vlak graf in Bramley gevind, ʼn dag nadat sy as vermis aangemeld is. Sy is die laaste keer in Mantsoe se woonstel gesien.

Karabo Mokoena (Foto via ANA)

Mantsoe het tydens die hofverrigtinge gesê Mokoena het hom die dag gevra om haar op te laai en na die woonstel in Sandton te neem. Hy is daarna glo weg vir ʼn sakevergadering en toe hy teruggekeer het na die woonstel, het hy haar liggaam op die mat aangetref. Hy het gesê hy het vir ʼn polsslag gevoel en niks gekry nie. Hy het aangevoer hy het paniekerig geraak en geweet almal gaan hom van haar moord verdink en daarom het hy haar liggaam in ʼn asdrom geplaas waarna hy dit met ʼn buiteband en petrol verbrand het.

Mantsoe het aangevoer Mokoena het vroeër ʼn handvol pille gedrink en hy en ʼn veiligheidswag het haar gered; daarom het hy gedink sy het selfmoord gepleeg.

Lees alle vorige berigte oor Karabo Mokoena op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Abe ·

Die opskrif se Mantsoe hoor sy lot, die berig se hy is skuldig bevind maar niks oor sy lot nie. Ook nie wanneer hy gevonnis word nie.

Dankie tog! ·

Sy was pragtig en is so verskriklik wreed vermoor. Hoop hy sit vreeslik lank. Mag reg en geregtigheid geskied.

Myra ·

Abe ek stem ‘n honderd persent saam met jou kommentaar. Dis ‘n uiters misleidende opskrif met die doel om lesers te lok – skaam julle Maroela

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.