Karabo Mokoena-saak: Ooggetuie sê hy het nie pille gesien nie

Die moordbeskuldigde Sandile Mantsoe (Foto: ANA)

ʼn Veiligheidswag van Sandton Sky-woonstelle ontken dat hy pille rondom die liggaam van Karabo Mokoena gesien het.

Isaac Mabasa het Woensdag in die Johannesburgse hooggeregshof gesê toe hy Sandile Mantsoe se woonsteldeur oopgemaak het, het hy nie enige pille rondom Mokoena se liggaam opgemerk nie.

Maroela Media het vroeër berig Mokoena, ʼn student aan die Regenesys-sakeskool, se verkoolde liggaam is op 29 April 2017 in ʼn vlak graf in Bramley gevind, ʼn dag nadat sy as vermis aangemeld is. Sy is die laaste keer in Mantsoe, haar kêrel, se woonstel gesien. Mantsoe is kort daarna in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Mantsoe het tydens sy aansoek om borgtog gesê Mokoena het hom die dag gevra om haar op te laai en na hul woonstel in Sandton te neem. Hy is daarna glo weg vir ʼn sakevergadering en toe hy teruggekeer het na die woonstel, het hy haar liggaam op die mat aangetref. Hy het gesê hy het vir ʼn polsslag gevoel en niks gekry nie. Hy voer aan hy het paniekerig geraak en geweet almal gaan hom van haar moord verdink en daarom het hy haar liggaam in ʼn asdrom geplaas waarna hy dit met ʼn buiteband en petrol verbrand het.

Mantsoe het aangevoer Mokoena het vroeër ʼn spul pille gedrink en hy en ʼn veiligheidswag het haar gered; daarom het hy gedink sy het selfmoord gepleeg.

Staatsaanklaer Mike Hlatswayo het konstabel Pule Khotelo na die getuiebank geroep en hy het aan die hof gesê hy is na die woonstelblok om te kyk of daar enige inskrywing was nadat Mantsoe gesê het hy het veiligheidswagte gevra om die deur vir hom oop te maak, omdat hy sy sleutel toegesluit het. “Ek het slegs een inskrywing vir 29 April 2017 gekry,” het Khotelo verduidelik.

Volgens Khotelo het Mantsoe in sy verklaring aangevoer dat hy en ʼn veiligheidswag Mokoena op die vloer aangetref het met pille om haar liggaam, toe die veiligheidswag die deur oopgemaak het.

Malerato Ramela, die dokter wat die nadoodse ondersoek behartig het, het gesê weens die afwesigheid van ʼn groot deel van die liggaam, kan sy nie bepaal of Mokoena nog gelewe het toe sy aan die brand gesteek is nie.

Die saak hervat Donderdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.