Karabo Mokoena se kêrel hoor oor borgtog

Sandile Mantsoe in die hof. Foto: Lindi Masinga / ANA

Uitspraak is Vrydag in die Johannesburgse landdroshof gelewer in die borgtogaansoek van Sandile Mantsoe, wat verdink word van die moord op sy meisie van sewe maande, Karabo Mokoena (22).

Mokoena, ʼn student aan die Regenesys-sakeskool, se verkoolde liggaam is op 29 April in ʼn vlak graf in Bramley gevind, ʼn dag nadat sy as vermis aangemeld is. Sy is die laaste keer in haar kêrel se woonstel gesien. Mantsoe is kort daarna in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Landdros Carlo Labuschagne het dit laat notuleer dat Mantsoe teregstaan op aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg. Dit word as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor wat tot ʼn gevangenisstraf van lewenslank kan lei.

By ʼn vroeëre borgtogverhoor, waar Mantsoe vlugtig in die hof verskyn het, het die ondersoekbeampte aan die hof gesê Mantsoe het erken hy het swembadsuur oor Mokoena gegooi en haar doodgebrand. Die ondersoekbeampte het aangevoer hy het haar liggaam verbrand sodat hy nie met die moord verbind sou word nie.

Mantsoe het glo aan die ondersoekbeampte vertel Mokoena het hom aan tradisionele rituele en geneeshere bekend gestel.

Die ondersoekbeampte het aan Labuschagne gesê Mokoena en Mantsoe het albei snye en ʼn identiese tatoe op hul lywe gehad om glo die sukses van sy sukkelende sakeonderneming te verseker.

Mantsoe het glo in sy oorspronklike beëdigde verklaring gesê die rede hoekom sy besigheid uiteindelik nié goed gevaar het nie, is omdat hy met Mokoena uitgemaak het en sy geluk en sukses gedoem is. Die enigste manier om van dié slegte geluk ontslae te raak, sou wees om haar te vermoor.

In sy verdediging het Mantsoe gesê niemand het sy regte aan hom verduidelik nie, en hy was glo bang om aangerand te word deur polisiebeamptes, en was daarom baie geïntimideerd toe hy die verklaring geskryf het. Hy het die inligting daarin as onwaar afgemaak.

Mantsoe het ook ontken dat hy saam met Mokoena aan tradisionele rituele deelgeneem het, en dat hy snye op sy liggaam het as gevolg daarvan. Hy het gesê sy besigheid het sy beter en slegter dae, soos dit maar oor die algemeen gaan.

Die foto van Karabo Mokoena wat op haar vermiste persoon-plakkaat versprei is

Oor die dag van haar dood het Mantsoe gesê Mokoena het hom gevra om haar op te laai en na hul woonstel in Sandton te neem. Hy is daarna glo weg vir ʼn sakevergadering en toe hy teruggekeer het na die woonstel, het hy haar liggaam op die mat aangetref. Hy het gesê hy het vir ʼn polsslag gevoel en niks gekry nie. Hy voer aan hy het paniekerig geraak en geweet almal gaan hom van haar moord verdink en daarom het hy haar liggaam in ʼn asdrom geplaas waarna hy dit met ʼn buiteband en petrol verbrand het.

Hy het gesê Mokoena het voorheen ʼn spul pille gedrink en is deur hom en ʼn veiligheidswag gered en hy het daarom gedink sy het selfmoord gepleeg.

Labuschagne het in sy uitspraak gesê Mantsoe se beëdigde verklaring wat in die hof voorgelees is, is teenstrydig met sy verklaring aan die polisie.

Hy het gesê Mantsoe het verkeerdelik en opsetlik Mokoena se liggaam verbrand, die misdaadtoneel skoongemaak en geweet sy optrede sou daartoe lei dat sy onherkenbaar verbrand word. Haar liggaam moes deur DNS-toetse geïdentifiseer word.

“Dit is nog nie duidelik of sy lewend was toe sy aan die brand gesteek is nie aangesien die nadoodse ondersoek se uitslag nog nie bekend is nie,” het Labuschagne gesê.

Labuschagne het voorgelees dat ondersoek aandui dat Mokoena nie selfmoordneigings gehad het nie en deur Mantsoe mishandel was.

“Hy het aan die polisie gesê hy het haar vermoor vir ʼn bloedritueel om sy onderneming meer suksesvol te maak,” het Labuschagne gesê voor hy Mantsoe se borgtogaansoek van die hand gewys het.

Die saak is tot 27 Julie uitgestel. Hy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Irene ·

Hy kan nou baie praat sy is nie daar om haar te verdedig nie Geen borgtog vir hom nie hyt a jong meisie se lewe geneem

Ulanda ·

Etlike van die feitlike bevindings wat die hof gemaak het tydens die borgtogaansoek, is NIE korrek in die berrig weergegee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.