Karabo: ‘Ons kon nie sien of dit die lyk van ʼn man of ʼn vrou was nie’

Die foto van Karabo Mokoena wat op haar vermiste persoon-plakkaat versprei is

ʼn Konstabel wat Woensdag in die moordverhoor van Sandile Mantsoe getuig het, het aan die hof gesê Karabo Mokoena, sy vriendin wat hy na bewering vermoor het, se liggaam was so erg verbrand dat dit nie eens herken kon word nie.

Mantsoe staan tereg op aanklag van moord op Mokoena (22), asook dat hy glo haar liggaam verbrand en in ʼn veld gelos het. Hy het skuld ontken en gesê sy het selfmoord gepleeg.

Haar verkoolde liggaam is op 29 April in ʼn sloot in Bramley gevind, ʼn dag nadat sy as vermis uit haar kêrel se woonstel aangemeld is.

Konst. Helen Mahwete het Woensdag in die Suid-Gauteng-hooggeregshof gesê die liggaam was so erg verbrand dat die polisie nie kon vasstel of dit ʼn man of ʼn vrou was nie. “As jy nader gekyk het na die toonnaels en die rooi naellak – dis hoe ons kon vasstel dis ʼn vrou.”

Mahwete het vroeër aan die hof gesê sy was besig met ʼn ander dossier toe sy ingelig is van die liggaam wat in Corletrylaan aangetref is.

“Daar is ʼn oop ruimte met ʼn sloot waar mense van die informele nedersetting hul vullis stort,” het Mahwete gesê.

Sy het twee deksels wat soos petrol geruik het, asook ʼn blou kombers met bloedvlekke en ʼn bloedbevlekte plastieksak naby die liggaam gesien.

Sy het die lykswa gebel en aangedui die liggaam het geen beserings in die vervoerproses opgedoen nie.

Toe Mahwete by die polisiestasie aankom, het ʼn konstabel haar aan ʼn vrou voorgestel en gesê die liggaam wat gevind is, is haar kind, Mokoena, se liggaam. “Toe ek vra hoe sy dit weet, het sy gesê daar is ʼn verdagte wat die liggaam wou gaan uitwys.”

Volgens Mahwete is dít wat sy in die polisie se houselle gehoor het “skokkend”.

“Hierdie man [Mantsoe] was besig om te verduidelik hoe hy iets moes doen wat hy nie eens kon verduidelik nie. Wat ek gehoor het, is: Dít wat hy gedoen het, was dít wat hy moes doen.”

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Colleen ·

Bring terug die doodstraf. Mag God hierdie vrou se familie vertroos nadat sy so wreed van hulle weggevat is.

christa ·

die meeste meisies, hoe pragtig ookal lewe nie meer kuis nie. Dis waarom die kerels deesdae so maklik die geleentheid het om die meisies dood te maak. Sy was so pragtig. Wonder wat in haar gedagtes om gegaan het die laaste oomblike

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.