Karabo se moordenaar gevonnis

Sandile Mantsoe in die hof (Foto: ANA)

Sandile Mantsoe, die man wat Karabo Mokoena vermoor het, is Donderdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof tot 32 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Dit kom nadat Mantsoe Woensdag skuldig bevind is aan die moord op Mokoena, dwarsboming van die gereg en aanranding met verswarende omstandighede.

Mantsoe het vroeër Donderdag gesê hy is jammer dat hy Mokoena se liggaam verbrand het, maar volgehou dat hy haar nié vermoor het nie.

Maroela Media het vroeër berig Mantsoe het Mokoena vermoor en daarna haar liggaam verbrand in ʼn poging om die moord weg te steek. Mokoena se verkoolde liggaam is in April 2017 in ʼn vlak graf in Lyndhurst in Johannesburg gevind.

“Ek vra om verskoning vir die familie, die gemeenskap en die mense wat opkyk na my. Die verbranding van Karabo was ʼn fout,” het hy gesê ter versagting van sy vonnis.

Phakanyiswa Marasela, staatsaanklaer, het vir Mantsoe gevra hoekom hy eers om verskoning vra nadat hy skuldig bevind is. “Hoekom het dit jou so lank gevat?” wou Marasela weet.

Mantsoe het gesê dat hy ʼn brief aan die Mokoena-familie geskryf het. “Dit het nie lank geneem nie, ek was in die tronk. Ek het ʼn brief vir die familie geskryf en het ook my medelye betuig.”

Regter Peet Johnson het tussenbeide getree en Mantsoe gevra hoekom hy net “half” om verskoning vra en nie jammer sê dat hy haar vermoor het nie. Mantsoe het weer eens gesê hy het haar nie vermoor nie.

Keabetswe Mokoena, Mokoena se ma, het ook Donderdag aan die hof vertel hoe sy haar dogter gemaan het om Mantsoe te los en hom by die polisie te gaan aanmeld vir aanranding.

Keabetswe het ter verswaring van sy vonnis getuig en gesê haar dogter sou haar bel en vir haar foto’s stuur van haar kneusplekke en sê dat Mantsoe haar aangerand het.

“Ek het haar gevra hoekom bly sy in die verhouding en sy het gesê dat sy lief was vir hom. Sy wou nie ʼn saak [teen hom] open nie, sy het gesê alles sal oukei wees.”

Keabetswe het verder gesê sy het al aan die verhouding getwyfel vandat sy Mantsoe vir die eerste keer ontmoet het. “Toe sy die eerste keer met hom hier aangekom het, kon ek sien daardie moordenaar is nie goed vir my kind nie. As ʼn ma kan jy sien as twee mense verlief is. Toe ek hom ontmoet het hy oogkontak vermy… wat ek gesien het was nie ʼn verliefde paartjie nie, hulle het net soos vriende gelyk.”

Sy het gesê Mokoena se dood het die familie seergemaak en dat Mantsoe se verskoning niks beteken nie. “Dis asof daar ʼn gat in my hart is,” het sy gesê nadat sy haar dogter as ʼn vriendelike, gelukkige en borrelende jong vrou beskryf het.

Lees alle vorige berigte oor Karabo Mokoena op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TLC ·

Wat n pragtige vrou en dan jaloesie wat oorhand kry. Sal nou nie sê geskikte vonnis nie maar n mooi 1 en mag hy nie uitstap daar nie RIV Karabo en mag jou familie berusting vind deur al jou pragtige memory’s

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.