Karen Meiring: Pasaangeër, padmaker, planmaker

Karen Meiring (foto: Willem Botha)

Of dit nou die verhoog, silwerskerm of die kassie is, noem ’n grensverskuiwende kunste-inisiatief en jy sal êrens die naam Karen Meiring raakloop. En hoewel sy onlangs as kykNET-baas afgetree het, kan jy haar beswaarlik ’n pensioenaris noem. Dié pasaangeër en padmaker is vol planne vir die toekoms, én vir Afrikaans.

“Dis vandag die eerste keer in 14 dae wat ek weer ’n bietjie mens voel,” vertel Karen (60) per Zoom ná Covid-19 ons planne vir ’n behoorlike kuier by haar nuwe huis in Stellenbosch keer op keer in die wiele gery het.

Hoewel sy reeds in Junie 2021 ná 13 jaar as hoof van die kykNET-familie van kanale afgetree het, werk sy nog tot einde Februarie as konsultant vir kykNET. Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, het hom vanaf 1 Februarie amptelik in die bekende groot blou stoel tuisgemaak.

Ofskoon MultiChoice se beleid is dat sy werknemers op sestig aftree, is “pensioenaris” gewis nie iets wat Karen binne die afsienbare toekoms op haar CV gaan skryf nie.
“Daarvoor is daar veels te veel stories wat nog vertel móét word; in Afrikaans,” sê sy.

Pens-en-pootjies-passie

“Dis ’n enorme oorgangsplek in my lewe. Wat nou, wat is volgende? Ek is iemand wat werklik pens en pootjies binne-in iets klim, en het ’n sterk persoonlike band met dít waarmee ek besig is. Dis veel meer as passie; dis om dinge gedoen te kry, in Afrikaans.

“Aan die een kant was ek so ingeburger by kykNET, en het ek nog soveel doelwitte, maar terselfdertyd glo ek ’n mens moenie te lank in dieselfde posisie wees nie. Dis baie goed om aan te beweeg sodat ander mense die geleentheid kan hê om met nuwe energie en idees vorendag te kom.”

Karen sê dit was vir haar sleg om die deure in Johannesburg agter haar toe te trek, ten spyte van wat so baie mense van die Goudstad sê. “Ek is baie lief vir Johannesburg. Daar is ’n energie wat lekker is, die mense is lekker. Maar die mense in Kaapstad is nét so lekker.”

Baie mense reken in die Kaap beweeg dinge teen ’n rustiger pas. Noudat sy in Stellenbosch bly, gaan sy dinge stadiger vat?

“Ek glo tempo hang van jouself af, waarmee jy besig is en hoe gou jy dinge gedoen wil kry. Die tempo in die Kaap is dalk anders, maar ek gaan nie noodwendig my ritme daarby aanpas nie,” waarsku sy met ’n glinstering in die oog.

Karen tydens haar eerste solovertoning by After Dark in Pretoria

“Ek is konstant besig om aan dinge te dink. My kop is die heeltyd besig. Ek het ’n groot passie vir teater en ek wil weer daarby betrokke raak. Ek het egter net so lief vir die televisie- en rolprentbedryf geword. Ek wil graag in ’n rolprentomgewing werk. Dit het vir my ’n soort aantrekkingskrag, en ek wil dit graag gebruik om ’n verskil te maak. Maar ek sien myself beslis die sirkel voltooi terug teater toe. Miskien deur self iets te skep.”

Haar dagboek vir 2022 is allermins leeg. Daar is reeds ’n komedie-dokkie in die vooruitsig, asook ’n rolprent waarby sy betrokke is. Die belangrikste is dat sy wil aanhou stories vertel. “By kykNET kon ek dit as uitvoerende vervaardiger vanuit ’n direkteurstoel doen, maar nie as die vervaardiger self nie. Daar is soveel unieke en belangrike stories in Afrikaans wat vertel moet word. In al die genres, veral dramas, is daar die belangrike kommersiële verwagting, maar daar is stories wat nie so kommersieel is nie wat ook vertel moet word.”

Tiener-wees en tenoorarias

Karen se pa in kostuum

Karen se ouers was albei bankamptenare en soos ’n mens kan raai, bruis musiek deur haar are.

“My pa was ’n sanger. Elke Woensdag het ons van Estcourt af deurgery Durban toe, en dan het ek, my ma en my suster buite die deur na sy sangles geluister. Ek was 14 toe ken ek al die tenoorarias se woorde in Italiaans. Dis hoe my liefde vir klassieke musiek ontwikkel het.”

Haar pa is op 42 in ’n motorongeluk oorlede, toe Karen pas 18 geword het. “Dit was ’n geweldige skok. My oupa is ook vroeg dood. Ek het vir baie lank gedink ek gaan nie ouer as 42 word nie, so om 60 te word, is vir my ’n wonderwerk.”

Haar ma is in 2018 oorlede, op 79. “Ek is so dankbaar sy het nie die pandemie beleef nie.”

Karen se jonger suster, Sanet, is ’n onderwyser by die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom, en was jare lank ’n Springbokhokkiespeler. “Een van die min kere wat ek my ma op ’n stoel sien spring het, was as Sanet hokkie gespeel het! My ma was ’n ongelooflike nederige mens, en een van my grootste lewenslesse het ek by haar geleer: Jy kan nooit dink jy is meer as iemand anders nie.”

Na-aan-die-hart-projekte

Karen saam met haar ma

Tussendeur is daar ook ’n indrukwekkende lys hartsprojekte waarby jy die naam Karen Meiring sal sien pryk.

Sy dien op die raad van die Kunstekaap en die direksie van die Suidoosterfees, en is voorsitter van die Tribuo-fonds wat in die lewe geroep is om uitvoerende kunstenaars by te staan wat tydens die koronaviruspandemie swaar trek. “Dit was van die begin af ’n belangrike saak, en nou nog meer,” vertel sy.

’n Ander groot projek wat haar baie opgewonde maak, is die Nuuseum, ’n aanlyn platform wat wil poog om die totale Afrikaanse media- en kulturele erfenis op een platform bymekaar te bring sodat navorsers makliker toegang tot argiefmateriaal kan kry.

“Die idee het tussen my en wyle Herman Binge vlamgevat. Ek was in 2010 in Washington en het die Newseum besoek. Daar het ek gesien hoe die media die geskiedenis van die dag skryf; hoe hulle die hele Amerikaanse geskiedenis geargiveer het deur die media van die dag. Ek glo vir Afrikaans is daar ’n soortgelyke behoefte. Ons Suid-Afrikaanse argiewe is nie in ’n goeie toestand nie. Daar is so baie wat nooit geargiveer is nie, soos onder meer die bruin Afrikaanse geskiedenis.

Karen saam met haar ma, sussie, Mariette,
Wicus en Wynand

“Ek is ook by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) betrokke wat uitstekende werk doen en werklik sigbaar Afrikaans is. Een van die projekte is Ons onthou, wat tans op kykNET&kie uitgesaai word. Sandra Prinsloo, ons voorsitter, het na verskeie gemeenskappe gereis en hulle eie unieke Afrikaanse stories gaan opneem. Dit is ’n wonderlike projek. Daar is stories wat nie verlore mag gaan nie.

“kykNET was my eerste blootstelling aan die korporatiewe omgewing. Die KKNK was in ’n sekere opsig ook, maar niewinsgewend. Nou het ek weer die geleentheid om my eie onderneming(s) van die grond af op te bou. Ek kan projekte aanpak wat ek regtig graag wíl doen, nie omdat ek móét nie.”

Van alt tot eerste sopraan

Karen saam met May Abrahmse in Amahl and the Night Visitors

Ná skool het Karen drama by die Puk (nou Noordwes-Universiteit) gaan studeer, en daarna haar eerste werk by Sukovs in Bloemfontein gekry; eers as assistent-verhoogbestuurder, toe verhoogbestuurder, daarna geselskapbestuurder …

“Toe kry ek die geleentheid om vir die operageselskap ’n oudisie te doen, en hulle aanvaar my. Mense lag altyd as ek sê ek het my opgewerk van alt tot eerste sopraan, maar dis die waarheid. Ek is professioneel as alt aangestel, maar toe ek daar weg is, was ek eerste sopraan.”

Cutt Glas

Daarna het die Goudstad se liggies gewink, waar haar eerste vryskutwerk die rol van ’n engel in Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat was. Uit dié engelekoor het Cutt Glas ontstaan. Die groep het een of twee optredes gedoen en toe nooi Ian von Memerty hulle om op sy vermaaklikheidsprogram, Muzik a la Carte, op te tree. Hulle het nie weer teruggekyk nie. Cutt Glas het by al wat ’n fees is opgetree, was 20 jaar saam op die pad en baie suksesvol. Karen sê sy mis die ensemble.

Karen was vir 14 jaar lank KKNK-feesdirekteur

“Toe kom die KKNK, en Pieter Fourie vra my om die eerste fees te organiseer. Ek was uiteindelik vir 14 jaar feesdirekteur.” Hierna sluit sy by die Oude Libertas-Amfiteater in Stellenbosch aan met die doel om dit ’n kommersiële teater te maak.

“Eendag het ek in ’n straat in Stellenbosch gery toe ek uit die bloute ’n oproep van M-Net kry om te vra of ek vir ’n onderhoud sal kom. Ek het in my lewe nie gedink iemand sou my vra om vir ’n onderhoud vir ’n televisiepos te kom nie.”

Die 13 jaar by kykNET was vir haar ’n opwindende reis. “Ek het ongelooflik baie geleer en wil nou terugploeg. Ek is baie dankbaar om verskillende loopbane in die vermaaklikheidsbedryf te kon hê – van operageselskap tot kommersiële televisie.”

Waarlik van alt tot sopraan – ook wat haar loopbaan betref: van backstage tot die raadsaal.

Drome vir Afrikaans

Jannie Moolman, Amanda Strydom, Ralph Rabie en Karen Meiring in 1989

Oor haar drome vir Afrikaans is Karen onteenseglik passievol én uitgesproke.

“Die Afrikaanse landskap of ekosisteem is ’n baie goed georganiseerde omgewing. Jy het mense wat veg vir die taal, dinge in die hof laat beland as dit moet, veg teen diskriminasie. Dan het jy ’n tweede stroom wat die taal demonstreer, deur middel van die kunste, joernalistiek, boeke, televisie en die rolprentbedryf. Daar demonstreer ons die taal en ons moet dit bly demonstreer, want dit hou Afrikaans kommersieel lewensvatbaar; dit gee die behoefte aan die taal suurstof.

Karen as die prins in die Slapende Skone -pantomime by
die Staatsteater

“Behoefte keer dat mense hul taal ontken. So baie Afrikaanse ouers maak hul kinders in Engels groot, amper asof hulle ontken dat hulle Afrikaans is. My wens is dat mense Afrikaans sal wíl wees en lééf. Onbeskaamd. Dis regtig nie iets om oor skaam te wees in terme van wie jy is nie. Ek het nie ’n probleem met tweetaligheid nie – eintlik moet ’n mens drie tale magtig wees. Maar moedertaal is onontbeerlik. Al die navorsing wys tog dat dit die fondasie lê vir latere naatlose meertaligheid. Die behoud van ’n taalgroep is juis hierin opgesluit.

“Afrikaanse skole, byvoorbeeld, is gehalteskole. Daar is organisasies soos die AON (Afrikaanse Onderwysnetwerk) en die SOS (Solidariteit Skoleondersteuningsentrum) wat ’n groot verskil in Afrikaanse skole maak. Nie net deur te praat nie, maar deur te bou. Fisies. Met stene. Daar is soveel geleenthede. As ons dit kan besef en raaksien, kan die miskenning en ontkenning verdwyn.”

Karen in die pantomime Jan en die boontjierank
saam met Antoinette Kellermann

Karen reken daar bestaan ’n groot behoefte aan ’n sinergieforum in Afrikaans, waar al die verskillende organisasies om een tafel byeen kan kom vir ’n indaba en om kennis en idees te deel.

“Pleks van verdeel, deel. Pleks van die mure hoër bou, kom ons maak die tafel langer. Ons moet saam brood breek. Die tentpenne wyer inslaan, die volheid van Afrikaans omarm. Dis veral nou belangrik dat al die netwerke byeenkom. As daar dinge is om uit te baklei, doen dit dan dáár. In daardie forum. Kommunikeer oor doelwitte. Doen gesamentlike projekte. Al die rolspelers is legkaartstukke. Afrikaans het elkeen nodig.

“Ons taallandskap is wel ongestruktureerd wat kommunikasie betref. Ons praat te min met mekaar. Daar’s ’n versigtigheid om nie op mekaar se tone te trap nie. Tog trek ons onder dieselfde juk, op reis oor dieselfde berg. Op die politieke landskap stig almal af, en dis reg, maar vir ons taallandskap is dit nie nou ’n goeie tyd om elkeen in sy eie rigting te trek nie. Ons het nodig om te sien wat almal doen. Wie fokus op wat? Waar is leemtes? Versigtigheid sal daar altyd wees – dis hoe ons is, maar dit is nodig dat ons hande vat en saamwerk.”

Honde, Jaguars en ’n reis deur Afrika

Karen saam met haar twee Switserse herdershonde, Willem (agter) en Pennie (voor)

Wanneer Karen haar werkskoene uitskop, geniet sy dit om tyd saam met haar twee Switserse herdershonde, Willem en Pennie, deur te bring.

Sy is ook ’n sportliefhebber wat graag ’n potjie gholf speel.

Sy het ook ’n bekoring vir vliegtuie en ’n sagte plekkie vir mooi motors. “Ek is baie lief vir ou motors, al ry ek ’n gewone kar. Jaguars met speekwiele! Ek sou graag ou motors wou versamel; ek het al baie motorskoue bygewoon. Die reuk van die leer vul my met nostalgie. My pa het so ’n Jaguar gehad. Dalk is dit my verlange na hom …”

Karen in 1980 saam met Gerrit Schoonhoven

Haar geloof hou haar geanker, sê sy, en haar liefde vir musiek speel ’n groot rol in haar lewe.

“Musiek neem jou na baie plekke. Ek het die geleentheid gehad om as operasanger selfs Duitsland toe te gaan, maar ek het tóé al besluit ek is nie ’n solo-mens nie. Ek is ’n ensemble-mens.”

Haar groot musikale liefde is opera, maar sy luister na ’n wye verskeidenheid musiek; van die kletsrymer Early B tot Elly Ameling, die Nederlandse sopraan van wie sy ’n groot aanhanger is. “Ek kan nie eintlik sê daar is musiek waarvan ek nie hou nie, dalk net musiek wat ek minder interessant vind,” sê sy laggend.

Sy is ook lief vir reis en mis dit baie. Op haar emmerskoplysie is ’n treinrit deur Afrika, of ’n reis na minder algemene toeristebestemmings soos die Noordpool. Een van haar reishoogtepunte was ’n rit in ’n Mustang vanaf San Francisco na Los Angeles. “Eerstens was die kar ongelooflik, al die stilhouplekke langs die pad, die kus, die snelweë met alles aan die regterkant van die pad. Dit was een van my lekkerste ervarings.”

Cutt Glas en die Afrika Mamas het Suid-Afrika in 2001 in China verteenwoordig

Nog ’n interessante reiservaring was om saam met Cutt Glas deur China te toer, saam met sangers van 18 ander lande. “Ons groep is Amasiko genoem – ons het saam met die Afrika Mamas ’n groep gevorm wat Suid-Afrika verteenwoordig het. Ons het vier weke lank in 18 busse rondgery en oral opgetree. Die Chinese het so goed op Afrikaans gereageer. Een aand toe ons in die hotelhysbak is, sing ’n Chinese man ‘halala, halala’ vir ons. Die woorde het hom bygebly nadat hy gehoor het hoe ons ‘Halala Afrika’ sing.”

Karen hou van kosmaak en eksperimenteer graag in die kombuis, maar sy sê haar gunstelingdis bly doodgewone macaroni-en-kaas. Sy hou ook van koffie drink en goeie wyn.

As sy ’n tafel kon dek en enige iemand nooi, wie sal op haar gastelys wees?

“Nataniël, omdat hy ook sestig word en ons lekker oor die ouderdom kan gesels; die Britse komediant Michael McIntyre; Madonna, want ek is mal oor haar manier van dink – toe sy besef het jy kan nie net uit opnames ’n bestaan maak nie, het sy ’n behoefte vir lewende optredes geskep; Ton en Anet Vosloo, omdat hulle so baie vir die kunste doen; Early B, omdat hy so ’n nice ou is; Emo Adams en teatermeester Saartjie Botha.”

Karen by die KKNK saam met
Ton en Anet Vosloo

Groot lesse onder groot druk

Karen as Jan in Jan en die boontjierank
by die Staatsteater

Wat is die grootste lesse wat sy oor die jare in die bedryf geleer het?

“Jy maak nie inhoud vir jouself nie. Dit is baie belangrik om te fokus op en te verstaan wat mense wil hê. Moet nooit jou mark onderskat of namens mense dink waarvan hulle hou nie. Tog moet ’n mens jou mark aanhoudend uitdaag en moontlik vir hulle iets gee waarvan hulle nie noodwendig geweet het hulle gaan hou nie.

“Jy is iets vir iemand, maar ook iets vir almal in Afrikaans. Onthou, daar is 52 variante in Afrikaans! Jy kan nie op ’n hoë perdjie sit as jy kritiek kry nie. ’n Mens leer geweldig baie lesse, onder groot druk. Dit gaan oor kykergetalle, wat weer inkomste aanvuur. Televisie is ’n baie duur medium. Dit is duur om programme te vervaardig. As iets nie werk nie, is dit ’n verlies op soveel vlakke. What is the next big thing? Dit weet niemand nie. Dit is wonderlik as daar ’n reeks kom en dit verstom almal.

Karen in 2018 saam met Cutt Glas en ander by die KKNK se 25ste verjaardag

“Daar’s belangrike stories wat in Afrikaans vertel moet word, byvoorbeeld Die Afrikaners van Hermann Giliomee, Afrikaanse leiers, dokumentêre reekse soos Stroomoppers en Formidabele vroue wat oor rolmodelle gaan. Dit is nie noodwendig kommersieel wat almal wil kyk nie, maar vir ons as kanaal was dit belangrik om te maak sodat dit op rekord is. Want wie anders doen dit? Ons het ’n verantwoordelikheid om dit op te teken en die kanaal speel ook ’n dokumenterings- én argiveringsrol.”

Wat was vir haar die lekkerste deel van haar jare in die blou stoel?

“Dat ʼn mens in soveel huise is en ’n verskil kan maak. Dit is ’n ongelooflike voorreg en ’n groot verantwoordelikheid. Jy moet pa staan daarvoor. Ja, ’n mens maak foute, maar ek is nie spyt oor die foute nie. Dis ’n leerkurwe. Foute gaan weer gebeur, maar dis belangrik dat ’n mens nie weer ʼn keer diesélfde foute maak nie.”

Cutt Glas doen agtergrondklank vir Johannes Kerkorrel

Die afgelope 13 jaar het kykNET onder haar leierskap tot die grootste kanaal op die DStv-boeket gegroei. Karen sê sy is trots op haar nalatenskap, maar sy reken ook dit is nou ’n goeie tyd om die leisels oor te gee.

“Ek voel goed oor die plek waar kykNET is; nie net vir Afrikaanse kykers nie, maar ook vir Engelse kykers. Ons het ’n groot persentasie Engelse kykers, want onderskrifte maak die programme toeganklik.”

Wat staan op die aflosstokkie wat sy vir Waldimar gegee het?

“Doe so voort én meer. Daar’s soveel goed wat werk. ʼn Mens lol nie met iets wat werk nie. Maak dít wat werk, beter.”

Veldbrandenergie

Karen en Jannie Moolman in Klassieke Pêlle

Dié formidabele vrou met die groot hart sê sy sal graag eendag onthou wil word as iemand wat regtig omgegee het vir dit waarmee sy besig was. “Ek het nog nooit in my lewe iets vir geld gedoen nie. Alles wat ek gedoen het, het ek gedoen omdat ek gevoel het dit is belangrik om daarby betrokke te wees, en soveel as moontlik energie daarin te sit.”

Sy is passievol oor die jonger geslag en geniet dit deesdae om ’n mentor te wees, om raad te gee, en geleenthede soos die Sinjatuur-prys by die Fiëstas te skep, sodat gevestigde talent opnuut raakgesien kan word.

“My motto is: Generosity generates. Vrygewigheid bring vrug. Kennis, geld, enigiets wat jy kan gee wat iets vorentoe bou, is belangrik. Saai saad wat kan vrug dra. Mense moet meer vrygewig wees met hul kundigheid en tyd, nie net met geld nie. Eindelik word dit ’n energie wat soos ’n veldbrand versprei.”

Wanneer ’n mens, byna uitasem geluister, ná ’n gesprek met Karen Meiring agteroorsit, is dít een van die dinge wat jou bybly – die veldbrandenergie van ’n passievolle pasaangeër wat enersyds onselfsugtig deel en andersyds onverskrokke ’n pad kan maak waar die volheid van Afrikaans vrylik kan vloei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hennie J

Ai tog die heimwee…….Onthou haar en haar sussie as snotneusogtertjies wie se pa en ma my seniors in die bank in Dannhauser was. Pa (Kallie) was die takrekenmeester en ma (Christien) die senior klerk. Wat n lieflike en sagte mens was sy nie.