Karkas van bultrugwalvis lok haaie by Port Alfred

Bultrugwalvis, ook bekend as ‘n boggelrugwalvis (Foto: Publieke domein via Wikimedia Commons)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) waarsku strandgangers in die Port Alfred-gebied oor die karkas van ʼn boggelrugwalvis wat naby die kuslyn opgemerk is.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê die karkas van die walvis is sowat 1 km van die kus af aan die westelike kant van Port Alfred opgemerk. Dit dryf tans in ʼn oostelike rigting.

“Haaie is rondom die karkas opgemerk. Ons doen ʼn beroep op swemmers, roeiers en persone op bote om waaksaam te wees weens die groter getal haaie in die gebied.”

Die publiek word gemaan om nie tans by enige van die strande in Port Alfred te swem nie weens haai-aktiwiteit.

Die karkas sal waarskynlik op die strand uitspoel. Die NSRI monitor die situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.