Karl Reich-moord: Só trek speurder hulle vas

Karl Reich.

Die saak teen twee mans van Thabong in Welkom, wat daarvan verdink word dat hulle die 82-jarige Karl Reich vermoor het, is in die landdroshof in Bloemfontein tot aanstaande week uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig dat Thanki Motseki (27) en Mojaleta Tseki (34) verlede week deur die Valke in hegtenis geneem is. ʼn Derde verdagte is steeds soek.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Reich op die dag van sy verdwyning, in September verlede jaar, verwurg is en dat sy liggaam in die kattebak van een van sy voertuie na Pretoria vervoer is waar dit naby die Fonteinedal in ʼn stormwatersloot op die N14 gelaat is.

Reich het op raaiselagtige wyse by sy huis in Jim Fouchepark in Welkom verdwyn en hoewel plaaslike speurders alles in hulle vermoë gedoen het, is hy nooit gevind nie.

Twee maande gelede het Reich se familie die Bloemfonteinse privaat speurder, Leon Rossouw, se dienste bekom. Rossouw sê toe hy die saak oorneem, was daar reeds baie inligting deur verskeie mense aan Reich se familie oorhandig, maar niemand kon al die los drade bymekaarbring nie. Een van die verdagtes was ook al voorheen in hegtenis geneem, maar moes vrygelaat word omdat daar nie genoeg bewyse teen hom was nie.

Leon Rossouw.

Rossouw se ondersoekwerk word deur middel van selfoontegnologie gedoen en hy het die selfoonstate wat reeds in die speurders se besit was van voor af begin ontleed. Reich se selfoon is byvoorbeeld deur een van die verdagtes gebruik, maar met ʼn ander simkaart in die handstuk en dus ook met ʼn ander selfoonnommer. Dié inligting het die verdagte reeds om 11:20 op die dag van Reich se verdwyning op die moordtoneel geplaas en teen 14:00 dieselfde dag is die foon in Soshanguve, noord van Pretoria, gebruik.

Die selfoonstate het ook gewys wie van Reich se foon af gebel is en waar almal was toe die oproepe gemaak en ontvang is. Sulke inligting word afgelei omdat die state die selfoontoring wys wat naaste aan die beller en die ontvanger van die oproep is. Toe daar boonop ʼn e-tolrekening vir Reich se motor by sy huis opdaag, is beeldmateriaal van die tolhekke bekom en so kon daar vasgestel word dat die verdagtes met Reich se twee motors deur die tolhekke is.

Een van Karl Reich se voertuie ry deur ‘n tolhek op die N1.

Selfoontorings op die roete tussen Welkom en Pretoria het gewys dat die verdagtes op verskeie plekke gestop en tyd verwyl het. Al hierdie plekke is vir Reich se liggaam gefynkam, maar niemand wat met die ondersoek gemoeid was, het gedink dat daar so ver as Pretoria gery sou word met ʼn lyk tussen ander gesteelde huishoudelike ware in die motor se kattebak nie.

“Ons het almal aangeneem dat hulle nie ver met hom sou ry nie en so gou moontlik van hom ontslae sou geraak het,” sê Rossouw. “Niemand sal die risiko loop om ver met iemand te ry wat hulle vermoor het nie, of so het ons gedink en geredeneer!”

Tog het Rossouw se net al stywer om die verdagtes begin span hoewel daar steeds geen teken van Reich was nie. As privaat ondersoeker is hy nie by magte om verdagtes in hegtenis te neem nie en hy moes ʼn plan maak om hulle te ondervra.

“Dis toe dat ek die hoof van die Valke in Bloemfontein gaan spreek en om hulp aangeklop het,” sê Rossouw uit Bloemfontein waar hy woon.

Een van Karl Reich se voertuie ry deur ‘n tolhek op die N1.

Sowat twee weke gelede is AO Lynda Steyn van die Valke na die saak oorgeplaas. Steyn en Rossouw het oor die afgelope 15 jaar verskeie sake saam opgelos en die twee het onmiddellik aan die werk gespring en inligting gedeel.

“Leon is briljant met tegnologie en sy prosessering van die selfooninligting het die saak vinnig in die regte rigting gestuur,” sê Steyn.

Toe die verdagtes vir ondervraging ingebring is, het hulle binne enkele ure bes gegee en vertel waar hulle Reich se liggaam weggesteek het. Daar is toe vasgestel dat hy reeds die dag ná sy verdwyning deur ʼn verbyganger opgemerk is wat die polisie in kennis gestel het.

Ongelukkig is die twee sake nooit verbind nie en die welaf Karl Reich is later in ʼn armmansgraf in Pretoria begrawe. Sy liggaam sal nou opgegrawe en aan sy familie oorhandig word.

Reich se skoonseun, Johan Ferreira, het aan Maroela Media gesê almal wat aan die saak gewerk het, het hulle uiterste beste gedoen. Die familie is uiters dankbaar dat sy skoonpa se liggaam gevind is.

Leon Rossouw (regs) saam met een van die verdagtes nadat hy in hegtenis geneem is.

“Absa se forensiese afdeling, lede van die publiek, eggenotes van polisiemanne asook die advokaat van die Nasionale Vervolgingsgesag, almal het ons gehelp.”

Rossouw sê met die Reich-ondersoek is net weer bevestig dat elkeen wat in verdagte omstandighede vermis raak se saak in ʼn ernstige lig beskou moet word en dat daar so gou moontlik met mense in die omgewing gepraat moet word.

“Skei feite van bespiegeling, volg leidrade op en moenie fokus verloor nie. Besoek lykshuise in die omgewing en kry ʼn foto van die vermiste persoon en sirkuleer dit by polisiestasies!”

Rossouw sê sy grootste beloning is om vir die familie antwoorde te kan gee en aan hulle hul geliefde terug te besorg. “Dis wat my dryf en laat aanhou soek na antwoorde.”

Rossouw ondersoek ook die moord op Natasha Mans wie se liggaam op 13 Junie in ʼn erf in Groenvlei buite Bloemfontein gevind is nadat sy sowat twee weke lank vermis was. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Mad ·

Wel gedaan Leon!
Mense soos jy gee hoop vir ons land se korrektiewe/forrensiese stelsels.

Anoniem ·

Julle verdien ‘n medalje ! Geluk goed gedoen Sterkte vir die volgende een !

khat ·

Ai jammer ons polisie het nie sulke briljante mense meer nie maar ja regstelende aksie het die land vernietig

Lizzie ·

Net weereens bewys dat as jy die kundiges aanstel word sake opgelos. Hoop die SAPD neem kennis van hierdie geval. Volgens die berig is die liggaam reeds die dag na sy verdwyning aan die polisie gerapporteer, maar daar het niks van gekom nie. Indien die polisie hul werk gedoen het sou die familie eerder in ‘n mate berusting kon kry waar hul pa se lyk was. Nou moet hy opgegrawe word.

Anoniem ·

Julle verdien ‘n medalje ! Geluk goed gedoen Sterkte vir die volgende een !

KrokodilBotha ·

Uitstekende vasbyt daar Mnr. Rossouw. Met die res, wonner mens maar net oor die sake wat doodloop, verdwyn of vir ewig net weg raak.

Theresa ·

Goed gedoen Leon, maar moenie jou manier van ondersoek vir almal uitlap nie. Bou voort op dit wat jy goed doen. Ek haal my hoed af dat jy so stil langs die gemors kan sit. As dit ek was, sou hy nie so kop onderstebo gesit het nie. Amazing dat hulle altyd katjie van die baan is en as hul gevang word, word die kop toegemaak, sit kop onderstebo en wys vir die fotograwe dat hulle bid. Siestog, tog so pateties as die bordjies verhang word!

JohanL ·

Welgedaan Leon. Skitterende werk. Gooi hom sommer twee Bells. :)

Ja swaer ·

Lekker dom om vir die hele wereld te vertel hoe selfoon tegnologie gebruik word net mnr Rossouw, maak kriminele nog slimmer. Dis in elk geval niks nuuts nie, in my dae in die Valke het ons vele sake op hierdie manier opgelos

Anoniem ·

A picture paints a thousand words – die foto waar Leon Rossouw en die gearresteerde wat langs mekaar sit, spreek boekdele.

Jan Botha ·

Met plaasmoorde is dit van uiterste belang dat die boer alle moontlike inligting van sy werkers by n famielielid sal bewaar. Dit Kan speurwerk vergemaklik

BEER ·

IETS MAAK NIE SIN NIE .IS DAAR OOIT N NADOODSE ONDERSOEK GEDOEN ,OM DIE DOOD VAN DIE SLAGOFFER TE BEPAAL EN HOE BEGRAWE DIE STAAT IEMAND SONDER OM BIETJIE MOEITE TE DOEN OM FAMILIE OF KENNISE OP TE SPOOR WAS SELF IN DIE DIENS

Hanna Hoekom ·

Dit is wat ek ook wonder: hoe moeilik sou dit wees om hierdie man se familie op te spoor? Hy is immers deel van n etniese minderheid. Dit sou tog nie TE moeilik gewees het nie? Iewers was iemand of moedswillig of te lui om hul werk te doen. Wat n vernedering om as n armlastigde begrawe te word terwyl jou geliefdes onverpoos na jou soek.

Magda Fry ·

Kan dieselfde tegnologie nie gebruik word om geroofde selfone op te spoor nie? Dan kan persone wat onskuldiges met messe en pistole dreig vir ‘n selfoon dalk ook vasgetrek word.

Hanna Hoekom ·

Dit is wat ek ook wonder: hoe moeilik sou dit wees om hierdie man se familie op te spoor? Hy is immers deel van n etniese minderheid. Dit sou tog nie TE moeilik gewees het nie? Iewers was iemand of moedswillig of te lui om hul werk te doen. Wat n vernedering om as n armlastigde begrawe te word terwyl jou geliefdes onverpoos na jou soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.