Karlien maak hart oop op TV-program

Bobby en Karlien van Jaarsveld (Foto: Instagram)

Bobby en Karlien van Jaarsveld (Foto: Instagram)

Die sangeres Karlien van Jaarsveld het haar hart oopgemaak oor haar egskeiding en miskraam.

In die eerste episode van Bobby en Karlien: In jou skoene Woensdagaand op die Via-televisiekanaal, het Karlien en haar sangerbroer, Bobby, die Abraham Kriel-kinderhuis in Nylstroom in Limpopo besoek. Een van die meisies by die kinderhuis het vir Karlien ʼn stuk laat lees wat sy geskryf het met die datum 15 Januarie 2015. Dit was die dag waarop Karlien haar babadogtertjie Evah ná 19 weke van swangerskap verloor het.

“Een van die goed wat my die kwaadste, die hartseerste gemaak het, is iemand wat eenkeer gesê het ek het my storie oor my dogtertjie wat ek verloor het, aan Huisgenoot verkoop vir geld,” het Karlien gesê.

“Ek sal in die hele lewe nie my hartseer of my persoonlike lewe aan ’n koerant of ʼn wat ook al verkoop nie. Veral nie daai hartseer van ek wat ’n kind verloor het nie.”

Volgens Karlien het sy die hartseer nuus destyds op Facebook gedeel aangesien mense sou vra hoekom sy nie meer swanger is nie. Sy was langer as ʼn week in die hospitaal en het nie die moed gehad om mense in die gesig te staar nie.

Karlien het vertel dat sy die dag op pad huis toe was van die hospitaal af en vir brood en melk stilgehou het. ʼn Man by die vulstasie het vir haar gesê hy is jammer om van haar dogtertjie te hoor.

“By die eerste stopstraat waar ons stilgehou het, het ʼn vrou ʼn publikasie verkoop met my gesig op die voorblad en hoe hartseer ek is nadat ek my baba verloor het. Dit was een van die hartseerste oomblikke van my lewe en ek het in trane uitgebars.”

Sy het ook oor haar egskeiding gepraat en gesê niemand weet wat by hul huis gebeur het nie. Karlien en haar eksman, Derick Hougaard, het in Augustus 2015 bekend gemaak hulle gaan skei. Hulle is op 8 Maart 2013 getroud en het ʼn tweeling (seuntjies) wat op 19 Desember 2013 gebore is.

In die TV-reeks stel Bobby en Karlien se familie verskeie uitdagings aan hulle om in iemand anders “se skoene te loop”. In die eerste episode tydens die besoek aan die kinderhuis bring Bobby en Karlien ʼn aand saam met die kinders deur en gaan die volgende dag saam Hoërskool Nylstroom toe.

“Die stories is nie lekker nie. Dit is vir my hartseer dat die kinders wil teruggaan na die ma wat soveel skade aanrig.” Die kinders vertel aan die Van Jaarsvelds hoe hulle mishandel is of deur hulle ouers verwerp is.

Bobby het die ondervinding as oorweldigend beskryf. “Ek kan my nie indink hoeveel seer hulle moet hê nie. Die seerste seer is verwerping. Dit is die groot wortel van baie kwaad in die wêreld.”

Die Van Jaarsvelds poog ook om geld in te samel met die program sodat dit aan die onderskeie inisiatiewe geskenk kan word. Besoek candystick.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.