Karoo juig ná lawende reën

Só het Schalk Wilson se plaas Donderdag ná die reën gelyk. (Foto: Verskaf)

’n Plaasdam tussen Williston en Calvinia het ná ses jaar eindelik weer water nadat welkome reën verlede week oor droogtegeteisterde gebiede in die Karoo uitgesak het.

Dié dam het byna oornag volgeloop toe 57 mm reën binne twee dae op Schalk Wilson se plaas in die sogenaamde Brandvlei-driehoek geval het. Groot damme in die omgewing se watervlakke het ook beduidend gestyg.

Die streek beleef al byna ’n dekade lank abnormale lae reënval hoewel die droogte die laaste drie of vier jaar in ʼn ramp ontaard het.

“Dis asof jou liggaam, siel en gees afgewas word,” vertel Wilson aan Maroela Media nadat dit eindelik verlede week Dinsdag en Woensdag goed op sy plaas gereën het.

“Ná so ʼn lang droogte is die reën gewoonlik stormagtig, wat verspoeling veroorsaak. Die reën het [egter hierdie keer] so sag en gematig gekom. Ons kon nie beter af gewees het nie. Ek glo ons droogte is gebreek as ons binnekort opvolgreën kry.”

Die dorre aarde toon al tekens van herstel. (Foto: Verskaf)

Volgens Wilson toon die dorre aarde intussen reeds tekens van herstel ná dié meevaller.

Hy vertel dat hy in Januarie vanjaar ʼn klein bietjie reën gehad het en in geloof lusern gesaai het. Daar was egter geen opvolgreën nie en die lusern het nie opgekom nie.

“Ek en my vrou het gister oor daardie lane gaan stap wat ek gesaai het. Ek het gedink die droogte het die saadjies vernietig. Te wonderlik kom die saadjies nou op. Dít ná agt maande wat hulle in die grond gelê het,” lag hy.

Volgens die nasionale departement van water en sanitasie het daar tussen 20 en 79 mm reën oor droogtegeteisterde gebiede van die Karoo neergesak.

Die Wilsons se grasperk is reeds grasgroen ná die reën. (Foto: Verskaf)

Wilson sê Suid-Afrikaners se hulp het inwoners van die Karoo deur die droogte gedra.

“Ek was in matriek (1984) toe my ouers deur ’n soortgelyke droogte gegaan het. Hulle het egter destyds ondersteuning van die staat ontvang. Ons het dit nie nou gehad nie, maar ons het wel ondersteuning van mense regoor die land gehad. Mense het net aanhou gee en was dit nie daarvoor nie, het die gemeenskap dit nie oorleef nie.”

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het Maandag gesê die departement is dankbaar vir die onlangse reën hoewel dit ongelukkig nie dadelik ’n einde aan die Karoo se watertekort sal bring nie. Ratau sê dit bring wel hoop aan die boeregemeenskap.

“Die grootste deel van die Wes-Kaap bereik die einde van die reënseisoen, aangesien die provinsie ʼn winterreënvalgebied is. Inwoners word dus aangemoedig om steeds water te bespaar.”

Die Wilsons se plaas tussen Williston en Calvinia. (Foto: Verskaf)

Intussen toon die departement se mees onlangse hidrologiese verslag dat Wes-Kaapse damvlakke aan’t herstel is.

Die Gouritzrivieropvangstelsel het beduidende stygings beleef en is tans 29,33% vol vergeleke met 24,28% verlede week.

Die Misverstand-, Pietersfontein-, Leeu-Gamka- en Gamkapoortdam het almal ná die onlangse reën ʼn styging van meer as 5% in watervlakke beleef.

Dit terwyl die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel, wat uit ses damme bestaan, ook weer die 100% -merk verbygesteek het.

Verskeie Karoo-boere het sedert die reën hartroerende boodskappe van dank op sosiale media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Martie Smartie ·

Pieter. Dis ‘n goedvoel storie, so laat die lesers maar goed voel. Moenie dat realiteit en logika ‘n goedvoel storie bederf nie. Mense wil eerder goed voel as rasioneel dink en moeilike vrae vra.

AW ·

Daardie Diere, het seker groot geskrik vir die water vanuit die Hemel…..

TO ·

Dankie Abba Vader aan u die gewer van alle goeie gawes, aan U alleen die eer

Claudette ·

Ons Dank ons Vader vir die wonderlik reën..daai ou lammertjies is te kostelik..

Martie Smartie ·

10 jaar se droogte, laaste 3 of 4 jaar ‘n rampdroogte. Mens en dier moet eers 10 jaar ly. Dis nou vir jou genade.

Cabytheron ·

Ag mensig, kan iets of iemand nou meer bly wees vir die welkome reën! Daai bokspronge is te kostelik! Dankie Heer vir U groot genade!????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.