Karoo nuwe Afrikaanse skool ryker

Karos Akademie, ’n nuwe privaat skool op Beaufort-Wes in die Karoo. (Foto: Verskaf)

Die MOS-inisiatief het Vrydag sy eerste hoërskool, Karos Akademie, op Beaufort-Wes in die Karoo bekendgestel.

Die bekendstelling volg kort nadat MOS verlede jaar hande met die Doxa Deo Opvoedkundige Trust geneem het om ’n Afrikaanse private skool by die Hartland-landgoed in Hartenbos in die Wes-Kaap te ontwikkel.

Karos Akademie kan tans 50 leerders akkommodeer, hoewel die skool beoog om mettertyd tot 450 leerders in te neem.

Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS-inisiatief, sê daar is reeds sowat 40 leerders by Karos Akademie ingeskryf. Dit beteken dat hulle binnekort aan bouwerk vir fase 2 van die skool sal moet begin dink sodat meer leerders geakkomodeer kan word.

Hy sê die skool is ʼn natuurlike deurvloei vir leerders van Vuurvliegie Akademie, ʼn private kleuter- en laerskool op die dorp.

“Selme-Louise van Wyk, hoof van albei skole, het die visie gehad om leerders uit die Beaufort-Wes- en Karoo-omgewing aan wêreldklasonderrig bloot te stel en aan hulle dieselfde geleenthede te bied as wat leerders in die groter stede ontvang.

“By Vuurvliegie Akademie en nou ook Karos Akademie word die kind in totaliteit gevorm en ondersteun, elkeen op sy eie pas. Die MOS-inisiatief en onbaatsugtige, deurlopende ouerondersteuning het hierdie droom verwesenlik.”

Van der Westhuizen meen dit is belangrik om ʼn Afrikaanse alternatief vir leerders in plattelandse gemeenskappe te bied waar skole dikwels verengels.

“Ons wou nie langs massiewe skole in plekke soos die Paarl of Pretoria golwe maak nie. Ons wil op die platteland fokus waar minder goeie skole beskikbaar is. In ons strategie kyk ons nou na groter plattelandse omgewings.

“Openbare skole verengels dikwels op die platteland en ons wou graag ʼn Afrikaanse alternatief vir kinders daarstel.”

Die nuwe hoërskool beplan ook om meerdoelige leerruimtes te skep: ruimtes waar leerders kan stil raak en net wees, ruimtes waar gesprekvoering en samewerking plaasvind en ruimtes soortgelyk aan ʼn samekoms om ʼn kampvuur waar stories vertel word. Dié ruimtes sal mettertyd uitgebrei en ontwikkel word afhangende van die doelwitte wat bereik wil word.

“Die leermodel wat hier gevolg word, is nie net toekomsgerig om leerders met vaardighede vir die uitdagings van die vierde nywerheidsrewolusie toe te rus nie, maar is so ontwikkel dat dit elke leerder se nuuskierigheid prikkel om sodoende ʼn liefde vir leer by hulle te kweek.”

Van Wyk sê die skool het nie net ʼn styl van sy eie nie, maar “gee weer hoop aan die omgewing”.

“Dit bied aan kinders ʼn plek waar hulle kan floreer. Vuurvliegie Akademie en Karos Akademie spog reeds met meer leerders as wat beplan is en hierdie getalle groei bykans daagliks,” sê sy.

Die skool se boustyl is ook só ontwerp om die skroeiende Karoo-hitte sover moontlik te beperk en aan kinders ʼn veilige omgewing te bied.

Die ligging is ook ideaal vir ouers wat nie hul kinders honderde kilometers ver na ʼn koshuis wil stuur nie, sê Van der Westhuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Windhond ·

Sal goed wees as ons minder bevoorregte Afrikaanse kinders beurse of borgskap kan kry

M ·

Ek, as vorige sakeman in BFW in die Toerisme, wil amper huil oor hierdie uitnemende beplanning en doen-aksie. God’s rykste seën vir julle vorentoe ….

Mariana ·

Fantasties en dis vir almal. Geen ras ding nie. Kinders kan hulself daar uitleef en floreer. Dit is mos al wat op einde saak maak. Die kind moet gelukkig wees. Doen so voort, baie goeie inisiatief.

TRP ·

Wonderlike nuus. Ons kort werklik baie meer skole in ons land, ek waardeer elke inisiatief en mag die skool, afrikaanse skool, net hoogtes bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.