Karoopark-stroper gevonnis

Swartrenoster (Foto: RonPorter/Pixabay)

ʼn Man, wat in die Karoo Nasionale Park, buite Beaufort-Wes in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is in verband met renosterstropery, is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. SANParke het die vonnis verwelkom. Die man is onlangs in die Kaapstadse streekshof gevonnis.

“Die voorval het op 30 Augustus verlede jaar plaasgevind toe drie mans, van ʼn renosterstroperysindikaat in Limpopo, onwettig die park betree het met die doel om ʼn swartrenoster vir sy horings dood te maak,” het SANParke gesê. “Hulle het ʼn gat in die geëlektrifiseerde heining geknip en renosterspore gevolg. Hulle wou een van die diere skiet vir sy horings.”

Een van SANParke se wildbewaarders het die gat in die heining opgemerk en die spoor van die drie verdagtes gevolg.

“Een van die mans, Alexandre Dias Shintlhangu, is in hegtenis geneem. Die ander twee stropers het van die toneel gevlug, ondanks ʼn soektog deur SANParke se veldwagters, lede van die SAPD en privaat grondeienaars. Daar is beslag gelê op ʼn jaggeweer met ʼn tuisgemaakte knaldemper, ʼn groot byl en verskeie ander strooptoerusting.”

Shintlhangu het tereg gestaan op aanklag van sameswering om ʼn misdaad te pleeg deur ʼn swartrenoster in Karoo Nasionale Park dood te maak, betreding, vertoef en jagaktiwiteit in ʼn nasionale park sonder geskrewe toestemming en die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn lisensie.

“Sy aansoek om borgtog is suksesvol teengestaan en daar is ook tydens die ondersoek bevind dat hy reeds uit was op borgtog in verband met ʼn ander saak. ʼn Tweede verdagtes is tydens die ondersoek in Vaalwater (Limpopo) in hegtenis geneem.”

SANParke het gesê Shintlhangu het op 31 Mei 2018 ʼn pleitooreenkoms met die staat in die Kaapstadse streekshof aangegaan. Alle aanklagte teen die tweede verdagte is teruggetrek, hangende DNS-uitslae.

“Hy het skuld beken op alle aanklagte en is dienooreenkomstig gevonnis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

De Villiers ·

Wat ‘n brawe man is die veldwagter nie wat man-alleen op die spoor van drie gewapende stropers was, en boonop daarin kon slaag om een van hulle te arresteer. Hy verdien dit om die hoogste respek te kry omdat hy sy lewe gewaag het om ‘n renoster se lewe te red. ‘n Ware veldwagter is hy.

tamboti ·

Reeds uit op borg. Op watter aanklag? Ook renoster stroping, of diefstal van vuurwapens of roof of wat? In elk geval as jy uit is op borg en weer misdaad pleeg is borg nie opsie nie! Straf hopeloos te lig!

Chris Ws ·

Waar is sy 10 jaar vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen???Dis ‘n klug spul alweer!

marous ·

En hulle wil wittes vir 10 jaar tronk toe stuur net omdat hulle nie aansoek gedoen het vir hernieuwing van wapen lisensies nie ? Klug!

Gestremde ·

Volgens my kennis is die minimum vonnis vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen 15 jaar. As daar versagtende omstandighede is kan die vonnis gewysig word na 10 jaar deur ‘n gedeelte op te skort. Die krimineel het baie lug daarvan af gekom as daar gekyk word dat daar ander sake ook teen hom is.

AmY ·

Net vyf jaar? Dis mos nie ‘n afskrikmiddel vir voornemende renosterstropers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.