Karpowership: ‘Kontrak vir twee dekades mos nie noodkrag’

Een van die kragskepe in Karpowership se vloot. (Foto: Karpowership)

Kenners sê ʼn 20 jaar lange kontrak met die Turkse maatskappy Karpowership gaan Suid-Afrika en sy mense duur te staan kom – maar dit kan dalk tóg verligting vir die kragkrisis bring.

“Enige kragkontrak wat oor twee dekades strek, kan nie onder noodverkryging geklassifiseer word nie, maar is eerder deel van ʼn bedrogspul om miljarde rand by Suid-Afrikaners te steel,” sê Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie.

“Onafhanklike ramings het getoon dat ʼn 20 jaar kontrak met Karpowership Suid-Afrika meer as R200 miljard uit die sak sal jaag. Dit is genoeg om ʼn nuwe Medupi- of Kusile-kragstasie te bou, gegrond op hul aanvanklike begrotings van onderskeidelik R79 miljard en R81 miljard.”

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê dit sal ʼn uiters duur oefening wees om 20 jaar lank aan hierdie kontrak gebonde te wees.

Dit sal volgens hom boonop nie eens Suid-Afrika se onmiddellike behoefte aan krag verlig nie.

“Ons behoefte is eintlik om vir die volgende drie tot vier jaar noodkrag te gebruik terwyl ander alternatiewe ingestel word,” sê hy.

“Gestel die skepe word môre in die hawe vasgemeer, dan moet koppelings steeds aan land gebou word en dit gaan omtrent ʼn jaar tot 18 maande vat om dit aan die netwerk gekoppel te kry.”

Al drie die skepe kan in die geheel 1 840 MW tot die netwerk voeg, maar Mulder sê “dit is nie naastenby genoeg nie” veral omdat daar ander plaaslike oplossings tot ons beskikking is, wat veel minder sal kos.

Hy sê die privaatsektor voeg reeds byna 1 000 MW per maand tot die netwerk en vanjaar is al soveel private projekte geregistreer dat nóg 2 600 MW tot die kragnetwerk gevoeg kan word. Dit is meer as wat al drie van Karpowership se skepe kan lewer.

“Die aandag moet nou wees om die kapasiteit op die netwerk so gou as moontlik te vergroot en die tekortkominge aan te vul met hierdie private projekte. Indien dit nie gebeur nie, gaan beurtkrag nog lank ʼn realiteit wees.”

Noodkragkontrak ‘verdag’

Volgens Mileham lyk dit asof die regering reeds besluit het om “die elektrisiteitskrisis as ʼn  verskoning te gebruik om ʼn buitensporig duur Karpowership-kontrak van 20 jaar op die Suid-Afrikaanse mense af te dwing”.

Dit ten spyte van die herhaalde teenkanting wat die regering oor die voorneme gekry het.

“Die regering is steeds vasbeslote om die plan deur te voer en te sê dit is die enigste oplossing tot ons beskikking,” sê Mulder.

“Die verkryging van noodkrag deur Karpowership is nie noodwendig ʼn slegte oplossing vir ons situasie nie – ons het noodkrag nodig en hierdie soort skepe kan vinnig krag lewer – maar ek weet net nie of die prys wat ons sal betaal per MW/h die moeite werd sal wees nie, veral nie op ʼn 20 jaar kontrak nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week in die parlement gesê as dit van hom afgehang het, sou die kragskepe nou al na Suid-Afrika gekom het om noodkrag op te wek terwyl ander alternatiewe ingestel word.

Karpowership het reeds in Maart 2021 die tender gekry om elektrisiteit ingevolge die land se noodopwekkingsplan te lewer. Die maatskappy wil sy kragskepe by Richardsbaai aan die Ooskus, Coega aan die Suidkus en Saldanhabaai aan die Weskus vasmeer.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Transnet gedwing is om hawespasie aan al drie van Karpowership se skepe vir die volgende 20 jaar te gee.

Sou die kontrak aangegaan word, kan dit aansienlike ekonomiese skade aanrig, juis omdat hawespasies uiters gesog is.

Karpowership se pogings om eindelik krag aan Suid-Afrika te lewer maak stadige vordering weens hofsake en skerp teenkanting.

“Hierdie saak sal beslis weer in die hof draai,” voorspel Mulder.

“Indien die regering aanhou druk om die plan deurgevoer te kry sal daar weer hofsake wees oor die omgewingsimpak en veral prosedureel oor die nuutste hawesituasie.”

Die jongste voorstel is dat ʼn tien jaar lange ooreenkoms met Karpowership aangegaan word vir die lewering van noodkrag, maar die DA druk vir vyf jaar met die opsie om dit te hernu soos nodig.

Die DA het reeds die regering ingelig dat hy gereed en bereid is om stappe te doen indien enige besluit geneem word om ʼn 20 jaar lange kontrak met Karpowership te onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Andries ·

Nee vriende julle verstaan ni. N groot politieke figuur het mos gesê ‘al di krag is daar. Dit moet net gekoppel word’. Dan word dit waarskynlik oombliklik via Bluetooth, wifi of internet oor hele SA versprei…

piet ·

Wat van die bestaande opwekkingseenhede ordentlik te herstel sodat dit nie elke tweede week uitskop nie?

Dirk ·

Want die ANC wil nog geld in hul sakke druk en hulle wil Russiese gas koop teen ‘n verhoogte prys sodat Rusland nog geld kan kry vir al die moord wat hulle nog wil pleeg in Oekraïne.

Henry ·

die anc het geen benul van geld waarde nie
o die belasting betalers sal kan betaal
shame met die Rand wat so min waarde het ek glo nie

JohanR ·

Hier gaan ‘n paar ANC kaders weer groot geld maak! Aspris ons tot Fase 10 gebring op nou die skepe in te bring.

Agie@toeka ·

Hulle moet ophou krag verkoop aan die buurlande dan sal dit heelwat beter gaan, maar omdat hulle geld goggas is en “greedy” is laat hulle ons sukkel(met “load shedding” stories) en die buurlande lekker leef en die selfde gebeur met die petrol/brandstof ook. Hulle veryk hulle self ten koste van ons!
“ANC = African National Crooks”

Johanncb ·

My bydrae is eenvoudig. Hou die bestaande steenkoolstelsel tydelik aan die gang, terwyl die “nuwe groenstelsel” infasseer word.

Papsak ·

Ja kyk iemand gaan weer vet geld maak hier uit kan hulle nie net die kragstasies instanhouding hou nie laat daar net krag is mense is dit nou so moeilik of te veel gevra

Stofdonkie ·

Mens kan net wonder hoeveel van die R200 miljard is vir die skepe om elektrisiteit te verskaf en hoeveel daarvan gaan dan na Phala-Phala, Nkandla en die ministers se persoonlike rekeninge toe?

Johann ·

Ons verstaan nie. Daai skippies gaan kripvreet geld aflaai. Sommer baie! Mantashe self is net so gulsig as die ANC namens wie hy vra en vat. En kyk mooi hoe daai selle skippies breek en lek en vrot en sink en niemand gaan iets kan doen nie. Hulle gaan ook nie na 20 jaar weg kan vaar. So skrootmetaal projek wat op ons wag.

Mariana ·

Mantashe werk al lank aan die krag vanaf skepe. Dit is wat hy wil hê en gaan kry, ongeag die negatiewe dinge wat dit inhou. Hy kry waarskynlik ook iets daaruit. Die ANC se planne vir SA sluit nie die inwoners in nie. Hulle kyk net hoe hulle kan baat vind.

Nettie ·

Met daardie geld kan hulle eerder vir elke belastingbetaler, of iemand wat ‘n eiendom of besigheid besit, ‘n paar sonpanele en ‘n battery gee, en daardeur sal hulle die ekonomie ‘n hupstoot gee en netsoveel kilowats byvoeg tot die netwerk, sonder dat geld uit die land hoef te gaan.

Pietertjie ·

Kragopwekking is in die algemeen ‘n ramp, omdat die ANC ‘n ramp is. So, die kragskepe sal ook ‘n ramp wees, twintig jaar lank.

Andre ·

Wat gaan die “groen” energie kos oor 20 jaar, en dan die verwydering van die skroot wat dit agergelaat het.

Jaco ·

Ramaphosa en die ANC buig dubbeld agteroor om vir Rusland te wys SA is regtig ‘n vriend van Rusland, maar Rusland help SA absoluut NIKS. Wat van grootskaalse hulp met die Eskom probleem en wat van goedkoper petrol?

Manie ·

Kom ons probeer op ‘n ander manier, die sensors is weer bedrywig vandag. Wat gaan aan tussen ‘n sekere maatskappy wat steenkool teen verhoogde pryse aan Eskom verkoop en dan blykbaar net 17 sent per kwh vir hulle krag betaal en dan nogals ooreengekom tot 2031? Eskom verloor blykbaar 11 miljard rand per jaar hierdeur, maar nogtans gaan die samewerking voort.

Nefie ·

Dankie, bly om te sien ek is nie die enigste wat gedink het 20 jaar is totaal belaglik nie.

Willie ·

‘n Hele paar kabinets kaders het skielik ‘n baie meer rooskleurige aftrede wat voorlê.

Pieter ·

Hoekom maar hoekom sodra daar ‘n oplossing vir die kragkrisis kom, dan pootjie mense dit ? Is hawespasie nou belangriker as krag ? . Mense moet regtig die karpowership uitlos sodat dit die oplossings kan bring. Daar is in enige oplossing problemee – maar hek, hoekom moet dit elke keer deur n hofsaak gestop word. Dis belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.