Karpowership kry groen lig vir Saldanhabaai-projek

Een van die kragskepe in Karpowership se vloot. (Foto: Karpowership)

Die Turkse maatskappy Karpowership het omgewingsmagtiging vir sy voorgestelde aanleg by Saldanhabaai gekry.

Die 320 MW-aanleg is een van drie drywende gaskragsentrales wat in 2021 voorkeurbieërstatus in die Suid-Afrikaanse regering se onafhanklike kragprodusenteverkrygingsprogram gekry het. Karpowership se kontrakte is vir ʼn algehele kapasiteit van 1 220 MW om vir 20 jaar lank elektrisiteit deur sy beplande kragskepe te lewer.

Twee 450 MW-aanlegte is onderskeidelik in Richardsbaai in KwaZulu-Natal en Coega in die Oos-Kaap geleë. Goedkeuring moet egter nog gegee word om met die projek by Coega voort te gaan, terwyl die maatskappy in Oktober die groen lig vir sy aanleg in Richardsbaai gekry het.

Karpowership se projekte is egter uit die staanspoor in omstredenheid gedompel, met verskeie vertragings oor die afgelope twee jaar, onder meer weens regsgeskille en probleme met omgewingsmagtiging wat ook in die hof gedraai het.

News24 berig dat Karpowership SA egter nog ʼn kans gegun is om weer sy omgewingsimpakstudies vir die voorgestelde projekte in te dien deur die appèlowerheid en die departement van bosbou visserye en omgewingsake.

Die omgewingsmagtiging wat vir die beoogde Saldanhabaai-aanleg toegestaan ​​is, spruit uit hierdie proses.

Maroela Media het vroeër berig die maatskappy het ook hewige teenkanting ontvang oor die enorme koste verbonde aan die projekte. Dit gaan Suid-Afrika na raming meer as R200 miljard oor ʼn tydperk van 20 jaar kos, maar ook vanweë die uitwerking daarvan op die omgewing en veral op kleinskaalse vissers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacobus ·

En so kry Mantashe sy sin en gaan miljoene rande in sy sak steek.

annie ·

Ja, die ou kêrel sit op Cyril se kop veral nadat hy Hom in sy glo donkerste uur omgepraat het om nie te bedank oor die geld in sy bank nie. En nou is geld nie ‘n kwessie nie. Julle sal mos verstaan?

Suzette ·

Ja…. so word alles deurgedruk deur die kaders. Mantashe se glimlag sou seker reg rondom sy kop wees as dit nie vir sy ore was nie. Klop homself nou op die skouer. Wanneer die poeding die waaier tref is hulle almal op pensioen en die wat nie op pensioen is nie in ‘n skoktoestand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.