Karprobleme, vergeetagtigheid, net té besig; dís hoekom LP’s belange laat indien

Die parlement tydens die 2020-staatsrede (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Parlementslede moet hul ledebelange teen ʼn bepaalde spertyd indien – en daar is ʼn rits redes waarom sommige van hulle eenvoudig net nie hierdie spertyd kon haal nie.

Altesame 11 LP’s het die spertyd gemis om hul finansiële en ander aanmeldbare belange teen 30 September verlede jaar in te dien. Parlementslede word ingevolge die kode vir etiese gedrag en die bekendmaking van ledebelange verplig om dié belange jaarliks aan te meld. Indien ʼn LP geen belange het om te verklaar nie, moet ʼn nul-opgawe dienooreenkomstig ingedien word.

Die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange het besluit dat tugstappe teen Jerome Maake, Tlhologelo Malatji, Zwelivelile Mandela, Phumeza Mpushe, Xolani Msimango, Xola Nqola, Mohatla Tseki, Judith Tshabalala en Audrey Zuma ingestel word, dat hulle met 20 dae se salaris beboet en in die parlement tereggewys word.

Vir ANC-LP Itumeleng Ntsube – ʼn gewoonteoortreder wat vir die derde keer die spertyd gemis het – was die straf ʼn boete van 30 dae se salaris. Nokuzola Tolashe, wat ʼn vorige jaar ook die spertyd misgeloop het, is ʼn boete van 25 dae se salaris opgelê. Albei is ook berispe.

Maake (ANC) het aangevoer hy was twee dae voor die spertyd in ʼn motorongeluk in Polokwane en dat hy sy skootrekenaar op Tzaneen laat lê het. Hy het die karprobleme probeer uitsorteer en het gevolglik van die spertyd “vergeet”.

ANC-LP Tshabalala het die skuld vir haar versuim op IT-personeel gepak. “Die lid sê dat sy IT-personeel in Pretoria wat vertroud is met die stelsel, vra om haar te help – maar dat die parlement se inligting- en kommunikasie-personeel nie die probleme kon oplos nie.”

Skermskote van WhatsApp-boodskappe tussen Tshabalala en die IT-personeel (op wie sy die skuld gepak het) wys egter dat Tshabalala net 27 minute voor die spertyd sou verstryk – op ʼn Saterdag om 23:33 – hulp ingeroep het.

Malatji (ʼn ANC-LP en voorsitter van die party se jeugliga) het aangevoer dat hy ʼn familie-noodgeval ondervind het, maar het geen besonderhede oor hierdie beweerde noodgeval verskaf nie. Mandela het ook “persoonlike redes” voorgehou en verduidelik dat hy oor die afgelope 14 jaar nog nooit die spertyd misgeloop het nie.

Msimango (ANC) het in sy verweer gesê hy het “gesinskwessies” ondervind wat hom “gesteur” het. Tolashe (ook ʼn ANC-LP) het die spertyd misgeloop omdat sy ook ʼn familieverpligting in Oos-Londen gehad het. “Sy kon nie toegang tot die stelsel kry nie en beurtkrag was ʼn probleem,” lui haar verskoning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Verskoning op verskoning omdat hulle eintlik onbevoeg en te sleg is om hulle werk te doen waarvoor hulle hengse salarisse kry. Meeste van hulle sit net in die pos en wag vir die volgende salaris. DAAROM in ons land in die toestand waarin dit is nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.