Kat se knievervanging eerste in SA

Drs. Bester en Kitshoff tydens Teofillien se gedeeltelike knievervanging. (Foto: UP Fakulteit Veeartsenykunde/Facebook)

Spesialisveeartse van die Universiteit van Pretoria (UP) se fakulteit veeartsenykunde het Suid-Afrika se eerste gedeeltelike knievervanging op ʼn kat gedoen. Dié vervanging het voorkom dat die kat se regterbeen geamputeer word.

Drs. Elge Bester en Adriaan Kitshoff het die prosedure by die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal (OVAH) gedoen waar hulle ʼn kunsmatige groef vir die kat se knieskyf gebruik het.

Hul pasiënt is ʼn korthaarkat wat Teofillien– ʼn middel wat gebruik word om simptome van asma te verlig – gedoop is. Sy is as jong katjie in ʼn parkeerterrein gered, maar het ses maande later uit ʼn tweede verdiepinggebouvenster geval.

“Dit het gelei tot ʼn baie ernstige en ingewikkelde fraktuur in haar femur en kniegewrig. Die kanse was goed dat die fraktuur nie ten volle sou herstel nie en dat sy dan met drie bene moes klaarkom. Dit sou die lewenskwaliteit van Teofillien beïnvloed het, aangesien katte hul agterpote gebruik om hulself te dryf wanneer hulle spring,” het Kitshoff gesê.

Volgens Bester was die eienaars van Teofillien bereid om enige iets te doen om haar weer op al vier bene te kry.

“Hulle wou haar bowenal die kans gee om ʼn normale, aktiewe kat te wees wat saam met haar ouer broer, Felix, die wêreld kan verken.”

Oor ʼn tydperk van drie maande het Teofillien verskeie operasies ondergaan om haar femur en kniegewrig te probeer rekonstrueer. “Nadat haar femurbeen met behulp van penne genees het, het Teofillien se patella uit die groef van die kniegewrig beweeg.” Die daaropvolgende operasie was onsuksesvol en Teofillien het steeds pyn ervaar wanneer sy geloop het.

Die twee chirurge het tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn ingewikkelde patella-groefvervanging gedoen moet word. ʼn Kunsmatige groef wat uit poliëtileen gemaak is, is spesifiek vir Teofillien ontwikkel. Poliëtileen is plastiek van mediese gehalte wat gebruik word vir die vervaardiging van gewrigsvervangingskomponente vir mense.

Die veeartse sê die vervaardiging van die kunsmatige groef was uitdagend, maar nietemin was die prosedure suksesvol en kon Teofillien verlede week haar knie buig sonder enige pyn of knieskyfverskuiwings.

Volgens Bester en Kitshoff herstel Teofillien goed by die huis. “Hopelik kan ons in die toekoms katte met soortgelyke toestande help om ʼn beter kwaliteit lewe te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MakersMark ·

So dis nou nie meer die kat se snor nie eerder die kar se knie……?

Willem ·

Wonderlik. Dankie aan die drs wat soveel moeite doen vir ń dier

Noels244 ·

Ek staan verstom wanneer ek na die Supervet kyk om te sien wat hy kan vermag om diere te help. Dis puik om te sien dat SA hierdie tegnologie begin toepas.

Agge nee ·

Dit is wonderlik om soveel vir jou kat om te gee, maar ek weet van ‘n ou tannie wat nou al 6 jaar wag vir ‘n knievervanging by ons treurige staatshospitaal. Wens ek het die geld gehad om haar so gelukkig te maak soos die katterkind.

Casper ·

Supervet doen hierdie operasies al bykans toe oë.So wat is so wonderlik daaraan.Wys net hoe agter die tyd is piesangland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.