Kataza begin inskakel by Slangkop-trop

Kataza kort na sy verskuiwing. (Foto: NCC Environmental Services)

Kataza, teen hierdie tyd een van Kaapstad se bekendste bobbejane, het begin inskakel by die sogenaamde Slangkop-trop nadat hy Donderdag na hierdie, sy oorspronklike trop by Kommetjie terugverskuif is.

Kataza, oftewel SK11, is gister omstreeks 11:30 sowat 3,5 km van die stedelike gebied vrygelaat. Dit is dieselfde omgewing waar die Slangkop-trop swerf. Die Stad Kaapstad sê hy het reeds verskeie foto’s en berigte oor die inskakeling begin ontvang.

Die stad sê Kataza is naby water vrygelaat, al sy kunsmatige identifikasiemerkers is verwyder en hy is goed bekend met die gebied. Hy is nie digby die trop vrygelaat nie, omdat hy die geleentheid moes kry om weer aan te pas, asook om die gevaar te verminder dat dominante mannetjiesbobbejane in die trop hom sou aanval.

“Deur hom ʼn billike afstand van die Slangkop-trop vry te laat, het SK11 (Kataza) die geleentheid gehad om hom te heroriënteer, die situasie te assesseer en op sy eie tyd te kies hoe hy die Slangkop-trop wil benader of weer by hulle wil inskakel,” lui ʼn verklaring van die stad.

SK11, oftewel Kataza. (Foto: NCC Environmental Services)

Kataza, ewe berug as wat hy bekend is, se stropersagtergrond gaan ook nie in ag geneem word wanneer enige toekomstige besluite oor sy toekoms geneem word nie. Sy gedrag sal wel ingevolge riglyne dopgehou word.

“Ons doen ʼn beroep op die plaaslike gemeenskap van Kommetjie en omliggende gebiede om SK11 (Kataza) asseblief toe te laat om by sy omgewing aan te pas en hom nie te voer of te volg nie. Dit is uiters belangrik omdat enige inmenging ʼn uitwerking op sy bewegings kan hê.”

Kataza en die Slangkop-trop sal soos gewoonlik deur die stad se omgewingsdienste dopgehou word. Die bobbejane word ook aangemoedig om in hul tuisruimte vir kos te soek en beboude gebiede te vermy.

Inwoners is gevra om so ver moontlik hul eiendom bobbejaan-bestand te maak en om kos wat die diere kan lok te verwyder in ʼn poging om strooptogte te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Cherokee ·

007, ook genoem SK11, is deur die munisipaliteit gekataza en vervreemd van sy eie trop, en hulle moet nou pa staan daarvoor. Bly om te sien hulle doen moeite om hul eie gemors reg te stel.

twaalfboor ·

REGTIG? Eks nou al bietjie moeg vir Kataza se verhaal.

Wakkerslaper ·

Is Slangkop trop nou ‘n mooi naam vir die parlement?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hy lyk vir my baie gelukkig. Ek glo sy trop gaan hom binnekort terug verwelkom.

Frans ·

Dit bly nou maar ‘n feit -hoe hoêr ‘n bobbejaan teen ‘n krans uitklim hoe meer sien jy van sy agterkant.

Eend Bessinger ·

Jou ou doring! Gaan soek nou vir jou ‘n maat en stop jou verskrikkingsveldtog. Dis tyd vir jou om pa te word en ‘n tuis-bobbejaan te wees.

Colombo ·

Ek word nou “gekataza”met hierdie vervelige beriggewing oor n bobbejaan

JANINE ·

Ag Twaalfboor regtig… Kataza se storie is nodig om verandering te bring vir die res van die bobbejane in die Kaap. Ons neem hul weiveld oor dan wil ons kliphard kla as hulle in ons asblikke grawe vir kos. Die grond waar hulle gevestig is bied ook nie meer die nodige voeding wat hulle nodig het nie en mense maak dit maklik vir bobbejane om in die dorpe kos te soek.
Kataza het wonderlik by sy trop ingeskakel – Kommetjie ingestap met George, die alfa bobbejaan en Jantjies, die sub-alfa weerskante van hom met sy kenmenklike wiegstappie ‘like a BOSS!’ You go Kataza! Dankie aan Ryno en al die bobbejaan engele wat hom deurentyd gemonitor en veilig gehou het! Danksy julle is daar hoop vir die res van die bobbejaan bevolking.

gehasie ·

Meer aandag word aan die bobbejaan gegee as aan Plaas-moorde of kriminaliteit in SA!

Cherokee ·

Klink asof jy dit werklik moeilik vind om by ‘n onderwerp of tema te bly. Daar is hulp vir dit.

Hennie J ·

Kan iemand asseblief bevestig of dit korrek is dat die eff binnekort n nuwe tak in Kommetjie gaan vestig?

Cherokee ·

Jy beledig die bobbejane. En by bobbejane, praat ek van Kataza se groep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.