Kataza gaan terug Kommetjie toe

Kataza. (Foto: Baboons Matter/Facebook)

Die bobbejaan Kataza gaan so gou as moontlik weer met sy Slangkop-trop in die Kommetjie-omgewing herenig word.

Ryno Engelbrecht het verlede maand ’n aansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om die besluit vroeër vanjaar om Kataza van Kommetjie na Tokai te hervestig, te hersien en tersyde te stel.

Volgens die Stad Kaapstad het Engelbrecht ingestem om sy aansoek terug te trek nadat besluit is om Kataza terug te stuur Kommetjie toe.

Die besluit volg volgens die stad nadat hy die situasie deeglik gemonitor het oor die afgelope tien weke.

Kataza se terugkeer sal gedoen word in ooreenstemming met die goedgekeurde riglyne en sal so spoedig moontlik plaasvind. CapeNature en ’n onafhanklike dierewelsynsorganisasie sal versoek word om sy vangs en vrylating te monitor.

In die belang van die bobbejaantrop en openbare veiligheid, mag geen lede van die publiek teenwoordig wees wanneer Kataza gevang word nie. Sodra hy gevang is, sal alle vorme van identifikasie verwyder word en indien nodig sal ’n veearts hom ondersoek voor hy vrygelaat word.

Volgens die stad sal Kataza se rekord nie in ag geneem word met toekomstige besluit nie. “Dit is om hom ’n regverdige kans te gee om weer aan sy omgewing gewoond te raak.”

Die publiek is versoek om Kataza nie te agtervolg wanneer hy eers vrygelaat is nie en om hom tyd en ruimte te gee om aan te pas.

Die Kaap de Goede Hoop-DBV het verlede maand die Kaapse owerhede genader met die voorstel om Kataza te vang en by die Riverside-wildrehabilitasiesentrum in Limpopo te hervestig.

Volgens die stad neem hy kennis van die DBV se voorstel, maar berus die besluit om wilde diere te verskuif by CapeNature wat ’n permit in die verband moet uitreik.

“Die stad is wel van mening dat Kataza die geleentheid moet kry om tyd saam met die Slangkop-trop deur te bring.”

Maroela Media het vroeër berig dat Kataza verlede maand in ʼn geveg met ʼn bobbejaanmannetjie van die Tokai-trop betrokke was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Ons het meer ptobleme as n bojaan wat nie wil aanpas nie????

Kruger

Hennie get a life!!!! Ons het soveel probleme nuus soos die is welkom….

Mad Mike die Rhodesiër

Dis beter! Daar is reeds met die natuur gepeuter. Hopelik sal die ewewig nou herstel word.

Andre

Net tot ‘n kind verskeur word, dan kerm almal weer.

Tanniepetoors

Arme Kataza. Eintlik pas hy nêrens meer nie. Mense het te veel ingemeng met die natuur en van hom ‘n probleem gemaak. Nou word hy ‘n uitgeworpene ten koste van ego’s lyk dit my.