Kataza na Limpopo verskuif

Kataza (Foto: NCC Environmental Services)

Kataza, een van die Kaapse Skiereiland se bekendste bobbejane, gaan na ʼn rehabilitasiesentrum in die Limpopo-provinsie verskuif word.

Belinda Abraham, woordvoerder van die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), het bevestig dat die aansoek wat hy vir ʼn permit by Cape Nature ingedien het om Kataza na die Riverside Wildlife-rehabilitasiesentrum in Limpopo te verskuif, goedgekeur is.

Soos vroeër berig het die DBV en die Stad Kaapstad verlede Dinsdag oor Kataza, ook bekend as SK11, se toekoms vergader en is daar besluit dat indien sy gedrag nie verbeter nie, hulle dié permitaansoek by Cape Nature sal indien om hom na die rehabilitasiesentrum te verskuif. Hier sal hy weer in die natuur vrygelaat word nadat hy gerehabiliteer is.

Volgens Abraham word Kataza tans in ’n plek van veiligheid gehou nadat hy vroeër vandag verdoof en gevang is. Hy sal verskeie gesondheidstoetse ondergaan voordat hy na sy nuwe tuiste geneem word.

“Die verskuiwing is in Kataza se beste belang,” meen Abraham.

Kataza het die afgelope agt weke tussen die Kommetjie-, Ocean View-, Da Gama Park- en Capri-gebied beweeg. Daar is sedert 12 November talle verslae oor Kataza opgestel, insluitend oor sy stroopgedrag. Hy was die afgelope twee weke in die omgewing van die Longbeach Mall-winkelsentrum in Noordhoek en het daarna in die rigting van Tokai begin beweeg.

Volgens die DBV was sy lewe in gevaar met van die inwoners wat gedreig het om hom skade aan te doen of selfs dood te maak. Hulle het selfs van ’n voorval verneem waarin iemand op hom geskiet het.

By die Riverside Wildlife-rehabilitasiesentrum sal Kataza geleidelik aan sy nuwe trop bekendgestel word. Hy sal in ʼn semi-wilde omgewing aangehou word en sy vordering sal gereeld gemonitor word.

“Ons wil die Riverside-sentrum bedank dat hulle hul harte oopgemaak het om Kataza ’n veilige hawe te bied.

“Ons belofte aan Kataza is dat dit [dieselfde] nie weer met ʼn ander bobbejaan sal gebeur nie. ʼn Dringende vergadering moet met die verskillende belanghebbendes belê word om planne te ontwikkel om die welstand van bobbejane in die Kaapse metropool te bevorder.”

Kataza is verlede jaar van Kommetjie na Tokai verplaas nadat hy talle huise geplunder het. Hy kon egter nie by die nuwe trop inskakel nie en is in November na Kommetjie teruggeneem. Hy het hier weer gesukkel om by die Slangkop-trop in te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Pieter ·

Taamlik wreed om die bobbejaan in ‘n ander habitat te verplaas, daar is baie wildernis in die Kaap. Wanaanpassing veroorsaak stress en siektes.

Ekself was al by so ‘n rehabiltasieprojek betrokke en het daarop aangedring dat die diere in dieselfde habitat gehuisves word wat goeie resultate opgelewer het.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dit is probeer – ten minste twee keer. Dit het nie gewerk nie. Alle pogings het misluk.

Casper ·

Pieter,moet nie uit die oog verloor dat Kataza ‘n moeilikheidmaker en inbreker is wat nou ‘n gewoonte misdadiger geword het nie.Hy kon nie eers by sy ou trop inpas nie.

Sarel ·

Die mense het al bewys hulle weet nie wat om met Kataza te doen nie. Ek het my bedenlinge en die verlede het my elke keer reg bewys

marius ·

Een van die mees suksesvolste rehabilitasie sentrums wat daar is . As hulle nie kan help nie sal niemand kan nie .

Mad Mike die Rhodesiër ·

Miskien is dit beter. Alle pogings om hom natuurlik te laat inskakel, het misluk. Hopelik sal hy beter vaar in ‘n totaal nuwe omgewing…

Sarel ·

Kataza…. nou gasn jy Bosveld toe Ou Kerel. Mooi Loop ons sal wil weet hoe dit met jou gaan. Die Bosveldklong moet jou ook sommer gaan besoek.

Sarel ·

Kataza Ou Kerel… nou kom jy Bosveld toe..sterkte en last weet ons hoecdit gaan

Colombo ·

Ek hoop om nie weer die bobbejaan gekataza te word nie.Begrawe asseblief die storie

christo ·

Die ‘bottomline’ is dat mense die natuurlike gedrag verander wanneer hulle wilde diere voer. Hierdie is ‘n sprekende voorbeeld van hoe dit skeefloop. Die ‘ bunny huggers ‘ is baie keer die skuldiges. Skielik is die dier se optrede nie meer so ‘ cute ‘ wanneer jy jóú eie woning deurgeloop het nie

Annatjie ·

Mense se gedrag is net so moeilik om te verander . Ek is ‘n voorstander daarvoor dat daar net ‘n spesifieke area is waar hulle kos kan kry dan kan die mense maar die kos wat hulle nie wil he nie daar kom “dump” Ongelukkig is mens en dier nou in mekaar se areas en die diere is die verloorders.

Hennie J ·

Die feite van die lewe is oral sprekend. Kyk nou net hoe sukkel die mensdom met n balhorige bobbejaan; dit is die beloop van die lewe.

Boeing ·

Is al die moeite met Kataza die geld werd? Dit is nou nie asof Bobbejane ‘n bedreigde spesie is nie.

Hennie ·

Hierdie is ‘n probleem dier – van kant maak is maar die beste oplossing.

Marinda ·

Hy is uitgeskop, omrede ‘n jonger mannetjie nou die leier is, hy sal nooit weer in sy ou trop toegelaat word nie, hy sal ook nie by ‘n ander trop inskakel en onderdanig wees nie, hy sal ‘n alleen loper bly, tensy hy tropleier kan word, hangaf hoe oud hy en gesond hy is en die gevegte kan wen…. dis deel van die natuur…

Carel Johannes ·

Soos wat ek die Limpopo boere ken skiet hulle ‘n lastige bobbejaan eers en vra dan vrae. Sy streke sal hy nie laat staan nie, hou hom maar op hok.

Strandloper ·

Sou die parlement nie dalk n beter opsie gewees het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.