Kataza se saak draai nou in hof

Kataza. (Foto: Baboons Matter/Facebook)

ʼn Aansoek is by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om die besluit om ʼn bobbejaan van Kommetjie na Tokai te hervestig, te hersien en tersyde te stel.

Die aansoek is deur Ryno Engelbrecht ingedien en versoek die Wes-Kaapse hooggeregshof om Kataza se hervestiging te heroorweeg.

Die Stad Kaapstad is egter van plan om die aansoek teen te staan in die belang van Kataza en al die ander bobbejane wat langs die stedelike gebiede in die Kaapse Skiereiland woon.

Kaapstad se bobbejaanprogram bestaan sedert 2009 en het tot op hede daarin geslaag om bobbejaanaanvalle in stedelike gebiede te beperk.

Die doel van die program is om wisselwerking tussen mense en bobbejane te beperk, om bobbejane uit stedelike gebiede te hou, en om die veiligheid en welsyn van inwoners en bobbejane te verseker.

“Kataza is al menigte kere ondersoek sedert sy hervestiging. Sy integrasie in die trop word steeds noukeurig gemonitor,” het Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat Kataza voorverlede naweek in ʼn geveg met ʼn bobbejaanmannetjie van die Tokai-trop betrokke was.

(Foto: Kaap van Goeie Hoop DBV/Facebook)

“Bobbejaangevegte is normale gedrag om dominansie te bepaal en is deel van die proses om in ʼn nuwe trop aanvaar te word.”

Die owerhede meen dat Kataza ruimte nodig het om op sy eie tyd met die Tokai-trop te integreer.

“Ingryping is in dié stadium nie nodig nie, soos gestipuleer deur die riglyne vir die hervestiging van bobbejaanmannetjies in stedelike gebiede.”

Volgens ʼn Facebook-plasing deur die bewaringsorganisasie Baboon Matters is die protokol wat gebruik is in die besluitneming rakende Kataza nie duidelik nie.

“As die owerhede protokol-BTTG3 volg, dan kan al die geleenthede waar Kataza huise binnegekom of kos uit vullisdromme geneem het, teen hom ingespan word en daartoe lei dat hy van kant gemaak word,” lui die plasing.

“Ingevolge BTT4, waar die riglyne uiteengesit word vir die verspreiding van bobbejaanmannetjies, kan Kataza egter aan sy geboortetrop terugbesorg word, aangesien hy nie in die nuwe trop gevestig is nie.”

Die owerhede het mense weereens versoek om hul afstand van Kataza te hou sodat hy makliker by die Tokai-trop kan inskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan ·

Nou moet hy weer vir n plek veg op sy ouderdom, net omdat die “mens” so besluit het. Die Tokai groep wil hom dalk nie daar he nie en hulle gaan n sluipmoord aanval op hom probeer, arme bobjaantjie.

JANINE ·

Johan hy het nie ‘n kans nie – hy is minus een slagtand wat hom ‘n agterstand gee op gevegte met die Tokai-mannetjies. Sy hele familie is in Kommetjie en hulle wil hom laat terugkom. Hierdie hofsaak gaan nie net oor Kataza nie, maar wel oor hoe hierdie diere behandel gaan word vorentoe. Ek hoop en bid vir ‘n goeie uitspraak.

Phillip ·

Weer eens meng mense by duere in en gooi die ekosesteem onderste bo

Johan ·

Nou ja, asof die afskaffing van toestromingsbeheer en die steeds gedwonge verskuiwing nog nie genoeg ellende vir hierdie ou landjie veroorsaak het nie. Kataza (om leed/skade/pyn aan te rig) doen sy naam werklik gestand. Hy kon nou maar wragtig parlement toe gegaan het. Net soos sekere politici het Kataza ook ‘n lang geskiedenis van misdaad en vergrype teen hom, en net soos sekere politici word hy ook nie tot verantwoording geroep nie. Soos wat daar deesdae in die parlement opgetree word, kan Kataza maar gerus somige van die ander hoogsbetaalde narre gaan kataza…

Baardman ·

Los die natuur dat hy dit self uitsorteer. Is daar te veel geld in die land dat daar nou hofsake oor bobbejane moet wees. Spandeer die geld op mense met behoeftes, onderwys, ens

Adriaan ·

Ek wonder hoeveel voordelige dinge daar vir bobbejane in geheel gedoen sou kon word met die moeite en geld wat Baboon Matters op Kataza spandeer.

JANINE ·

Adriaan sien my kommentaar onder dan sal jy weet waar die geld vandaan kom. Baboon Matters bestaan uit vrywilligers wat Kataza monitor en probeer veilig hou – hulle kry nie salarisse nie …

Kokerboom ·

Hier word die dam nou totaal onder die eendjie uitgeruk!!!

Johanncb ·

Ek hoop daar word net soveel na die betrokke inwoners, dit is nou die mense, se belange omgesien!

JANINE ·

Pampoen en Baardman net ter inligting … die prokureur wat Kataza se saak hof toe vat, het uit sy sak R50 000 bygedra tot hof kostes. Wat met hierdie arme bobbejaan gebeur is diere mishandeling! Dis wreed. Mense neem hul weiplek in, maak nie voorsiening vir baboon-proof asblikke nie, voer hulle en neem fotos. So word die bobbejane al hoe makker … Wie se skuld is dit??? Hulle s’n? Nee – die liewe mensdom!

My siening ·

Ag Ryno kom oor jou kataza en los die vir die diere beskerming vereeniging. Nou nou kataza, kataza vir jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.