Kategorie 1-staatsbegrafnis vir Tutu

Talle ruikers is ter nagedagtenis aan die ikoniese Suid-Afrikaners neergelê. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

ʼn Spesiale kategorie 1-staatsbegrafnis sal vir emeritus‑aartsbiskop Desmond Tutu gehou word.

Dié ikoniese Suid‑Afrikaner is op Kersdag in die ouderdom van 90 dood. Hy was ʼn kampvegter teen ongeregtigheid en het onder meer die Nobelprys vir Vrede ontvang.

Die spesiale amptelike begrafnis sal Saterdag om 10:00 in die St. George-katedraal in Kaapstad gehou word.

Tutu was die eerste swart kerklike wat as die biskop van Johannesburg verkies is voor hy in 1986 die eerste swart kerklike was om die aartsbiskop van Kaapstad te word. Hy was algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en voorsitter van die destydse Waarheid-en‑versoeningskommissie.

“Ter erkenning van die oorlede emeritus‑aartsbiskop se merkwaardige lewe en onskatbare bydrae aan die land, het pres. [Cyril] Ramaphosa die oorlede leier se begrafnis as ʼn spesiale amptelike begrafnis kategorie 1 aangewys,” lui ʼn verklaring van die presidensie.

Só ʼn begrafnis sluit in seremoniële bydraes deur die weermag.

“Tydens die geleentheid en gegrond op die oorlede aartsbiskop se wense, sal die weermag se seremoniële inhoud beperk word tot die oorhandiging van die landsvlag aan [sy vrou] Leah Tutu.”

Vlae sal landwyd, asook by alle Suid-Afrikaanse diplomatieke missies wêreldwyd, van vandag tot op die aand van die begrafnis halfstok hang.

Die roudiens sal ook ingevolge Covid-19-bepalings gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.