Katgriep klop weer aan by polisie se honde-eenheid

Bimbo is verlede jaar van katgriep dood (Foto: Verskaf)

Die parvovirus, beter bekend as katgriep, het weer by die polisie se honde-eenheid in Roodeplaat in Pretoria-Noord uitgebreek. Dit is die tweede keer binne ʼn jaar dat die dodelike virus by dié eenheid kop uitsteek.

Volgens Renate Barnard, voormalige luitenant-kolonel in die polisie en tans sektorkoördineerder by Solidariteit, het klein hondjies sedert die afgelope naweek hier begin siek word en doodgaan aan die griep. Ongeveer 14 hondjies is reeds dood.

Barnard sê die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal in Pretoria het ʼn nekropsie uitgevoer en bevind die hondjies het wel katgriep onder lede gehad.

Katgriep het verlede September ook in die honde-eenheid uitgebreek. Barnard het vroeër aan Maroela Media gesê dié uitbreking was die gevolg van die polisie se pligsversuim om die honde op ses weke teen die virus in te ent, soos die wet vereis.

Teen Oktober was daar reeds 75 hondjies dood. Die eenheid het in daardie stadium sowat 200 hondjies gehuisves.

Barnard sê dié keer was daar wel van die tewe ingeënt teen die virus.

“Entstof gaan nie noodwendig die virus heeltemal keer nie. Die honde se hokke moet gereeld ontsmet en skoongehou word. Die polisie versuim om dit gereeld te doen,” sê Barnard.

Barnard sê daar is ook ʼn tekort aan medisyne om die hondjies te behandel.

“Dit is ʼn wrede virus, want van die hondjies wat wel gesond word, is nooit weer dieselfde nie. Hul ontwikkeling raak ‘agter’ teenoor die res,” sê Barnard.

Kobus Hoffman, ʼn VF Plus-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, sê die behandeling van die hondjies word ook verder bemoeilik deur noodsaaklike toerusting wat nie behoorlik funksioneer nie.

“Die nalatigheid van die honde-eenheid om toe te sien dat die hondjies gereeld ingeënt word teen die virus is onverskoonbaar. Die VF Plus bevraagteken ook die eenheid se teelprogram weens die oormatige aantelingprosesse (inteling) wat gevolg word,” sê Hoffman.

Hoffman sê die VF Plus gaan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) vra om die eenheid te besoek en voor te stel hoe om die telingsproses en die algemene versorging van die honde te verbeter. Hy sê die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad sal ook versoek word om die honde-eenheid te ondersteun en voorleggings te doen om seker te maak dat voorgeskrewe prosedures gevolg word.

“Die VF Plus sal eersdaags ’n oorsigbesoek aan die eenheid bring om probleme rakende die eenheid te bespreek,” sê Hoffman.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie is bewus van die virus wat verlede week in die honde-eenheid uitgebreek het. Hy sê daar is tot dusver vyf hondjies reeds uitgesit.

Hy het bevestig die honde-eenheid se veeartse monitor die situasie noukeurig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christo ·

Die situasie is dieselfde as by die berede eenheid in Potchefstroom. Ongelukkig is dit ‘n feit dat SA netsoos in ander Afrika-lande nie staatsdiere in sy gewapende magte kan versorg nie. Hokke en perdestalle word nie gereeld skoongemaak nie. Dis tog ‘n basiese taak wat deur die hanteerders gedoen móét word. Diere is nie gebreekte voertuie wat net gelos kan word totdat daar geld is om dit te herstel nie. Die DBV sal seker ook hier verwaarloosde diere kry soos in Potchefstroom.
Sluit die eenhede vir altyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.