Kathrada-begrafnis: Zuma openlik gekritiseer

Voormalige president Kgalema Motlanthe by die begrafnis van Ahmed Kathrada. Foto: GCIS

Voormalige president Kgalema Motlanthe het Woensdag by die begrafnis van ANC-struggle-veteraan, Ahmed Kathrada, dele uit ʼn ope brief aangehaal wat Kathrada aan pres. Jacob Zuma geskryf het waarin hy hom vra om te bedank.

Kathrada het in dié brief wat hy in Maart verlede jaar aan Zuma gerig het, hom gevra om te bedank nadat die konstitusionele hof bevind het Zuma het versuim om die Grondwet na te kom en te respekteer met betrekking tot die Nkandla-sage.

Kathrada (87) is Woensdag in Johannesburg se Wespark-begraafplaas ter ruste gelê. Hy is Dinsdag dood kort nadat hy ʼn operasie ondergaan het om ʼn bloedstolling op sy brein te verwyder.

ANC-struggle-veteraan, Ahmed Kathrada, se begrafnis is Woensdag (29 Maart 2017) in Johannesburg gehou. Foto: GCIS

Motlanthe het die toon aangegee vir openlike kritiek teenoor Zuma se behandeling van die struggle-veterane en ANC-strydrosse. “Wat [Kathrada] en sy politieke organisasie voorgestaan het, het vir ewig die menslike ervaring verryk. Ek sou sê ons moet vertroosting vind in die onsterflikheid van die idee wat sy bestaan gedefinieer het, die idee van vryheid,” het hy gesê.

Motlanthe het sy huldeblyk aan Kathrada begin deur te sê: “Op ʼn dag soos vandag moet ons nie doekies omdraai nie. Ons moet dit sê soos dit is.” Motlanthe het gesê dit sal oneerlik wees om hulde aan Kathrada te bring en voor te gee hy was nie “diep ontsteld” oor die stand van politiek in Suid-Afrika nadat apartheid tot ʼn einde gekom het nie.

Foto: GCIS

Hy het Kathrada se woorde aangehaal waarin hy sy redes uiteensit vir sy brief aan Zuma, onder meer dat hy ʼn lojale en gedissiplineerde lid van die ANC sedert die 1940’s was. Kathrada se brief het gelui: “Ek was nog altyd van mening dat ek nie in die openbaar sal praat oor verskille tussen my en my leiers en my organisasie, die ANC, nie. Ek sou dit net doen wanneer ek gevoel het dat belangrike organisatoriese kwessies my noop om my bekommernisse te opper.

“Vandag, het ek besluit om afstand te doen van daardie tradisie. Die posisie van die president is ʼn posisie wat ten alle tye die land moet verenig agter ʼn visie en ʼn program wat ten doel het om ʼn beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners te skep. Dit is ʼn posisie wat respek van alle Suid-Afrikaners vra en wat natuurlik ten alle tye verdien moet word.”

Foto: GCIS

Motlanthe het gesê: “Comrade Kathy het voortgegaan om reguit, byna op arrogante wyse te vra, ‘In die lig van die voortdurende wydverspreide kritiek, veroordeling en eise, is dit te veel gevra dat jy die regte pad sal kies, wat al meer momentum kry, en oorweeg om uit te tree?’”

Motlanthe het ʼn staande en luide toejuiging van die gehoor ontvang terwyl hy die brief voorgelees het.

Verskeie struggle-veterane, onder wie oudpres. Thabo Mbeki; Winnie Madikizela-Mandela; minister Jeff Radebe; Mac Maharaj, Zuma se voormalige woordvoerder; Ronnie Kasrils, voormalige kabinetsminister en Sophia Williams de Bruyn, anti-apartheidsaktivis, het die begrafnis bygewoon.

Zuma was egter nie in die gehoor nie.

Dr. Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, het Woensdagoggend gesê Zuma sal nie die gedenkdiens en begrafnis bywoon nie, in ooreenstemming met die wense van die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Drakensberger ·

Vat só JZ! Jou verdiende loon! Hoop jy word al meer en meer uitgesluit uit verrigtinge van belang ….. en dan sommer ook uit jou party en pos as Numba1!

Johann ·

Die miskenning wat n karrakterlose “leier” verdien! Mag dit deur die massas geresoneer word! En nie eers in 2019 nie. NOU!

Onnie ·

Skande vi ons almal, ni nt vi anc. Hoeveel nonsense moet jy da aanvang vo jy di trekpas kry? Is da niemand wt va di man ontslae ka raki????

Alida ·

Hy is nerens welkom nie. Lekker vet klap in sy gesig. Kry vir jou.

AL ·

Zumpie moet sy streke los en koebaai sê vir SA. Dalk het die Guptas vir hom ñ huisie in Indië?

Ange ·

Ja, bitter min is gelukkig met die huidige president maar daar’s n tyd en n plek om oor dit te praat- en dis nie voor treurende familie en vriende nie.

Boela ·

Ange, die dag dat ek treur oor die afsterwe van ‘n vyand van my volk, is die dag waarop ek my Afrikanerskap afsweer. Sal nie gebeur nie!

TDW ·

Ek stem saam jou Ange. Hoe kan jy politiek bespreek op iemand se begrafnis? Ek is seker die familie het dit nie goed opgevat nie.

Paul ·

Zuma, steur hom nie aan die kritiek, hy’s nog ver van opgee, die uitlatings maak hom meer gevaarlik.

My tweesent bydrae ·

Zuma steur hom nie aan die kritiek nie . Hy luister net na die Guptas se kommentaar .

jaco ·

Ek neem maar dat die enigste kwaai kritiek teen Zuma vanuit ANC-geledere, kom vanaf ANC-manne wat of te oud is, soos Motlanthe, of hulle is van die “verkeerde” ras, wat nie meer tel nie, soos Kathrada (Indiër) en Kasrils (wit Jood). Ek hoop genoeg swart ANC-politici wat tans in die politiek is en wat invloed het, sal eendag wakker skrik en vir Zuma wegjaag.

My tweesent bydrae ·

Die kritiek pla Zuma nie . Hy is al bestand daarteen .

Rof ·

Julle bly hom aanspreek as Number 1…….ek dink dit moet verander na Number Zero

SARIE VAN HEERDEN ·

Captain Zero is hopeloos te dom en boonop dikvellig om agter te kom hy is uitgedien in hierdie land. Wat het hy in elk geval ooit vermag behalwe ons land onder finansiele druk te plaas en die Guptas te dien. Stuur hom Emerald Hills in Dubai toe waar die Guptas ‘n lekker huisie by die see het.

SkarrelKind ·

Sarie- al weet hy ook hy is uitgedien, gaan hy net soos baie Afrikaleiers, hom doof en blind hou, en klou soos ‘n bosluis op ‘n bees, ten spyte van kritiek. Net soos daai veskrompelde Mugabe – hy kan nie hoor sien of loop nie, maar hy smeer nog vir oulaas sy palms vet. Om ‘n Afrikaleier te wees beteken niks in die regte sin van ‘n volk lei nie – dis ‘n mahala selfverrykingsprogram, vir jou en jou familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.