Kathrada-stigting sê óók kandidaatlyste moet hersien word

Die Ahmed Kathrada-stigting (Foto: ANA)

Die Ahmed Kathrada-stigting het Dinsdag gesê hy ondersteun die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) en Corruption Watch se beroep op politieke partye om hul kandidaatlyste voor die komende verkiesing in Mei vanjaar te hersien.

Die stigting het in ʼn verklaring gesê hy is óók van mening dat politieke partye sekere omstrede kandidate van hul lyste behoort te verwyder en dat toepaslike wetgewing gewysig behoort te word om die maatstaf vir die keuring van kandidate te verhoog.

Die stigting het in die verklaring verwys na die konsitusionele hof se uitspraak rakende die Nkandla-saak in 2016 waarin hoofregter Mogoeng Mogoeng die plig van openbare verteenwoordigers uiteengesit het. Dié uitspraak het daarop gewys dat verteenwoordigers behoort te voldoen aan die oppergesag van die wet en die waardes van die Grondwet moet uitleef.

Mogoeng het in dié uitspraak gesê: “Een van die belangrikste elemente van ons grondwetlike visie is om ʼn beslissende skuif te maak van die misbruik van staatsmag en hulpbronne wat feitlik geïnstitusionaliseer was gedurende die apartheidsera.”

Mogoeng het verder gesê openbare ampsdraers moet hulle onderwerp aan die waardes van aanspreeklikheid, geregtigheid en die oppergesag van die Grondwet. Indien hulle dit nie doen nie, sal hulle met die lang arm van die gereg te doen kry.

Die stigting het gesê dat die beskerming van Suid-Afrika se demokrasie openbare verteenwoordigers vereis wat ʼn “onberispelike etiese rekord en hoë morele status in ooreenstemming met die waardes van die Grondwet het”. Die stigting glo politieke partye moet dus hul kandidaatlyste hersien om plek te maak vir kandidate met dié kernbeginsels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dries ·

Di lyste is reeds deur di OVK finaliseer en kan ni nou gewysig word ni. Partye mag egter kandidate versoek om te onttrek – wat is di kans??

marous ·

Waarom wil almal politiek najaag ? Want dan kan hulle ook hul kloue in die armes se geld slaan sonder om ‘n druppel te sweet . Dis die waarheid.

Dries du Toit ·

As al die korrupte kandidate verwyder word van die ANC/EFF lyste bly daar niks oor nie

Bietjie baie ·

Ek stem 100℅ swam daarmee. Alleenlik Mense met intergiteit behoort leierskap posisies the beklee. Hulle private lewe moet ook daarvan getuig. Leierskap moet respekwaardig lewe en respek waardig wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.