‘Katslagter’ slaan wéér toe

Twee van die katte wat deur die vermeende katslagter geslag is (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Die oorskot van nóg ʼn kat wat op wrede manier geslag is, is Vrydag in Ruimtestraat in Manenberg, Kaapstad gevind.

Dít nadat die slagting van minstens 37 katte sedert 15 Julie in dié nedersetting aangemeld is – soms tot drie per dag.

Nadoodse ondersoeke wat op die oorskot van twee katte gedoen is, het intussen bevestig dat die katte met opset deur een of meer persone doodgemaak is.

Allan Perrins, woordvoerder van die Dierewelsynsvereniging in Kaapstad, het vroeër gesê dat alle moontlikhede oorweeg is, selfs dat die voorvalle moontlik met hondegevegte verband kon hou.

Maroela Media het vroeër berig dat inwoners uiters bekommerd is oor dié wrede raaiselagtige slagtings en vir die welsyn van hulle troeteldiere vrees.

“Dit is egter nou duidelik dat ons na ʼn tweebeen-monster op soek is en nie ʼn vierbeen-monster nie.”

Die Dierewelsynsorganisasie het nou selfs  ʼn beloning van R7 000 uitgeloof vir enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende katslagter in Manenberg kan lei.

Perrins het vroeër gesê dat die katte oënskynlik op dieselfde wyse doodgemaak word.

“Al die dooie katte se mae is oopgesny en die ingewande is netjies langs die oorskot geplaas. Die katte is van kop tot stert oopgesny. Wat veral vreemd is, is die feit dat daar op al die tonele nie ʼn druppel bloed gevind is nie. So asof die kat eers skoongewas is.”

Uit die nadoodse ondersoeke blyk dit nou dat die katte met ʼn skerp lem oopgesny is waarna hulle harte en longe onder meer verwyder is.

Minstens 38 katte is sedert Julie dood gevind (Foto: Verskaf)

Dit is egter nie duidelik wat die presiese oorsaak van die katte se dood was nie, hoewel daar baie ooreenkomste op die twee katte se oorskot gevind is.

“Ons het aanvanklik vyf katte vir die nadoodse ondersoek oorhandig, maar weens die gevorderde ontbindingstadium van die diere se oorskot kon betroubare nadoodse ondersoeke nie daarop uitgevoer word nie.

“Dit is egter uit albei ondersoeke duidelik dat ʼn mens, eerder as ʼn dier, agter die slagtings sit.”

Volgens Perrins lyk dit ook asof die katte netjies op spesifieke plekke geplaas word.

Die slagtings vind ook binne ʼn radius van ʼn kilometer in die gebied van Manenberg plaas.

Volgens Perrins is die dooie katte langs paaie, by skole, kerke en buitekant die polisiestasie gevind. Daar is ook ʼn paar gevalle aangemeld waar die katte op inwoners se erwe en opritte gevind is.

Dit is ook nie net rondloperkatte nie, maar ook troeteldiere wat geteiken word.

Perrins sê voorts weens die wreedheid wat met hierdie dade gepaardgaan en die skaal waarop dit plaasvind, het die gemeenskap moontlik met ʼn baie gevaarlike persoon te doen.

“Dit kan ʼn psigopaat of groep psigopate wees.”

Perrins sê hy hoop dat die polisie die saak met die nodige erns sal ondersoek.

“Hierdie is nie jou alledaagse dieremishandelingsaak nie. Hierdie is dalk ʼn reeksmoordenaar in wording.”

Perrins sê hoewel hulle geen idee het wie vir die slagting verantwoordelik is nie, vermoed hy dat dit iemand binne die gemeenskap is.

Daar is ook ʼn moontlikheid dat die persoon of persone krapmerke aan hulle liggame kan hê.

“Die aandklokreël weens die Covid-19-inperking maak dit effens moeilik om ondersoek in te stel aangesien dit moontlik gedurende dié tyd kan gebeur.”

Kapt. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê dat niemand nog in verband met dié slagtings in hegtenis geneem is nie, maar dat twee sake van dieremishandeling ondersoek word.

Katslagtings van dieselfde aard is vroeër die maand ook op die Surrey-landgoed, wat reg langs Manenberg geleë is, aangemeld. Vyf onthoofde katte is verlede maand in Faure ontdek, asook katte wat lewend gebrand is in Parow. Dié verbrande katte se oorskot is in swart sakke op mense se erwe gegooi.

In Mitchells Plain het die Dierewelsynsvereniging ook twee gevalle gehad van ʼn kat wat gehang is en ’n kat wie se vier pote afgesny is.

Dit is egter nie in dié stadium duidelik of die slagtings in Manenberg met bogenoemde gevalle verbind kan word nie.

Die Dierewelsynsorganisasie het ʼn beloning van R7 000 uitgeloof vir enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende katslagter in Manenberg kan lei. Enigiemand met meer inligting kan die vereniging by 021 692 2626 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Peetjie ·

Dis net n monster(of monsters) wat tot so-iets in staat is. Ek hoop die skuldiges word gou opgespoor…

Erika ·

As daardie persoon n Dier so behandel Wonder hoe tree hy op teen mense-…

Pandora ·

Die polisie en ondersoek beamptes moet dalk kyk hoe vergelyk hierdie situasie met die van Luka Magnotta. Daar word geredelik deur Sielkundiges beweer dat as iemand diere mishandel, dit later ook kan oorgaan na mense toe wat dus beteken die persoon word ‘n reeksmoordenaar. Die enigste ander opsie sou okkultiese offerings wees. Mag die persoon of persone vinnig opgespoor word.

JohanR ·

Begin jy nie maar soe op diere experimenteer nie voordat jy oorslaan na mense toe? Die is net een siek persoon! ‘n Kat as hy lekker vriendlik is, sal self na ‘n vreemdeling toe gaan om ‘n vryfie te kry.

Janine ·

Hou jou dier in jou erf, soos deur WETTE bepaal, dan hoef jy nie bekommerd te wees nie.

Charl ·

Hoe ?? Katte ken nie wette nie en is nie soos honde wat jy in ‘n groot mate nog kan beheer nie, vir hulle is daar nie gebiedsgebondenheid nie.

Feite ·

Stem 100% saam met jou! Die outydse ideetjies van katte moet rondloop geld nie vandag meer in die wereld waarin ons leef nie! Elke keer as ek een van die duisende MISSING Posters sien dan wil ek daardie eienaar n warm klap gaan gee. Dis nie so moeilik om jou katte veilig te jou nie. n bietjie werk en effort. Die wereld is nie blommetjies daar buite vir diere nie!

Tanniepetoors ·

Ek wil dit nie so hê nie, maar iemand krap daar in die okkulte rond, of probeer hard om dit so te laat lyk. Steeds ‘n baie siek (sielsiek) en gevaarlike individu.

Maggies ·

Hoe ongelooflik wreed kan sommige mense wees. Waarom onskuldige diere en mense teiken om ‘n siek behae daarin te kan kry?
My katjie en twee hondjies is soos my kindertjies. Word bederf en in my huis gehou.
My katjie gaan net met haar leiband by my deur uit. Sy sit sommer vanself en wag vir die band om in te klik, voor sy by die deur uitgaan.
Mense sal maar net meer bedag moet wees en hul dierekinders binne hul huise moet hou.

Feite ·

Jy is n goeie eienaar. Die wereld en mense is wreed daar buite vir diere.

Harley Davidson ·

Volgens statistieke word 57 mense per dag vermoor in Suid-Afrika, party word wreed gemartel nou skenk ons soveel aandag aan n bergie of ‘n satanis wat katte slag.

Feite ·

Jasper, jou karakter het nou net baie duidelik deur gesyfer.

Cherokee ·

re: “Die aandklokreël weens die Covid-19-inperking maak dit effens moeilik om ondersoek in te stel aangesien dit moontlik gedurende dié tyd kan gebeur.”

Stupid stelling! Die polisie (behoort) nie gebind te wees aan die aandklok reël.
Dink vir jouself iemand wat bel om hulp en die poelieste sê: Sien jou na agt mòreoggend!”
Wàt ‘n geklike land!

“Hierdie is dalk ʼn reeksmoordenaar in wording.”
Nee..!!! Hièrdie is dalk ‘n ateïs in wording!

Cherokee ·

As jy met aandag die kommentare lees, sal jy bewus wees dat daar heel waarskynlik ateïste is wat kommentaar lewer. Ek weet natuurlik dat ons grondwet geloofsvryheid ondersteun, maar ateïsme is nie ‘n geloof nie, maar spog met gebrek aan geloof. Word geloofs-onthoudig ook ondersteun? Wanneer jy dig soos in dìg is, probeer ontwaak!~

Phillip ·

Op n erenstige noot noot nou is dit nie satanaanbidders wat die kate se harte vat en dit gaan offer vir satan nie hulle is wreed

Feite ·

Dit gaan nou al weke aan! Die mense in die omgewing weet almal van hierdie gruwel dade maar nog steeds kyk hulle nie na hulle katte nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.